Update
ALBERTINIA NUUS - Die verdagte in die moord op Sharon Lee Bester, Johannes Bangiso, het vandag in die landroshof op Albertinia verskyn.
Die saak is uitgestel na Donderdag 9 November. Bangiso bly in aanhouding op Mosselbaai tot dan.
Die 52-jarige Bester is Saterdag dood in haar huis op die plaas Zout van die Aarde in die Albertinia-distrik gevind. Daar is oorspronklik vermoed dat sy 'n beroerte gehad het, maar 'n nadoodse ondersoek gister (1 November) het bevestig dat sy verwurg is.
Bangiso (20) was 'n werknemer op die plaas.
Bester se verassingsdiens sal blykbaar Woensdag 8 November gehou word. Die plek is nog nie bevestig nie.
Brigadier Gerhard Jantjies van Da Gamaskop het die speurders van Albertinia-polisie geprys vir hul knap speurwerk deur die verdagte te kon arresteer, selfs nog voor die uitslag van die lykskouing bekend was.
“Hulle het moed en deursettingsvermoë getoon en onverpoosd gewerk om te verseker dat die verdagte vasgetrek word,” het hy gesê.
Jantjies het gerugte weerlê dat dit ‘n plaasaanval was omdat die verdagte op dieselfde plaas bly.
Lees vorige artikels:
• Albertinia: Boervrou vermoor
• Bekende dood in huis gevind
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'