ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike polisie het Saterdag 28 Oktober ondersoek gaan instel nadat hulle 'n klagte ontvang het van 'n persoon wat vermoedelik dood is by Zout van die Aarde-plaas, Zoutpan in die Albertinia-distrik.
Die oorledene, Sharon Lee Bester is dood in die huis aangetref. Haar voertuig, 'n wit Landrover was vermis, sowel as haar skootrekenaar, tablet en selfoon, maar met puik ondersoekwerk is dit reeds teruggevind.
Bykomende sake is geopen van huisbraak en diefstal, asook motordiefstal.
"Een verdagte is gearresteer en die gesteelde items is in sy besit gevind. Hy het die geleenheid gesien en die items geneem," sê sers. Ciska Badenhorst, mediawoordvoerder.
Die nadoodse ondersoek-uitslae is nog uitstaande. Die ondersoek duur voort.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Riversdal nuus'