ALBERTINIA NUUS - Die vrou wat Saterdag (28 Oktober) dood in haar huis op die plaas Zout van die Aarde op Zoutpan in die Albertinia-distrik gevind was, is vermoor.
Volgens die stasiebevelvoerder van die Albertinia-polisie, kaptein Susan Botha, het die nadoodse ondersoek gister (1 November) bevestig dat Sharon Lee Bester (52) verwurg is.
“’n Verdagte (20) is reeds gearresteer en verskyn vandag in die hof vir moord,” het sy gesê.
Bester se lyk is deur ‘n plaaswerker gevind wat die honde moes kos gee.
“Die ambulans was reeds op die toneel toe die polisie daar kom. Volgens die paramedici was daar tekens dat sy ‘n beroerte gehad het,” verduidelik die ondersoekbeampte, adjudant offisier Hennie de Jager.
Die plaasbestuurder het die volgende dag opgemerk dat haar voertuig, ‘n wit Land Rover, weg is. Lede van die publiek het die Land Rover Saterdag naby Dekriet opgemerk en het die verdagte herken wat op Bester se plaas werk, waarop hulle die polisie in kennis gestel het.
De Jager het na die verdagte se familie gegaan, waarop sy pa gesê het dat sy seun hom laat weet het dat hy sonder diesel gaan staan het en dat hy diesel vir hom ingegooi het. “Die verdagte se meisie het bevestig dat hy haar met die Land Rover gaan haal het.” Die voertuig is Sondagmiddag ‘n entjie van die plaasopstal gevind.
De Jager het hom op die plaas gearresteer en het hy van die eiendom wat hy geneem het, oorhandig. Hy het sleutels van voertuig die vorige dag weer in die huis gaan terugsit. Hy het erken dat Bester hom in die huis betrap het toe hy geld gesoek het om diesel in te gooi, waarop hy haar verwurg het.
Die verdagte is vir moord aangekla en bykomende sake van huisbraak en diefstal, asook motordiefstal is geopen.
Volgens De Jager sal hy vir regshulp aansoek doen en sal die saak uitgestel word.
Die ondersoek duur voort.
Die bevelvoerder van Da Gamaskop Cluster, brig. Gerhard Jantjies het die speurders van Albertinia-polisie geprys vir hul knap speurwerk deur die verdagte te kon arresteer, selfs nog voor die uitslag van die lykskouing bekend was.
“Hulle het moed en deursettingsvermoë getoon en onverpoosd gewerk om te verseker dat die verdagte vasgetrek word,” het hy gesê.
Jantjies het gerugte weerlê dat dit ‘n plaasaanval was omdat die verdagte op dieselfde plaas bly.
Sharon Lee Bester (52)
- Lees die nuutste hier | Opvolg: Abertinia-boervrou vermoor
- Lees 'n vorige artikel | Bekende dood in huis gevind
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'