NASIONALE NUUS - Drie weke van sosiale afsondering is genoeg om enigiemand se brein muf te laat voel.
Net soos fisieke oefening spiere soepel hou, het breine ook oefening en stimulasie nodig.
Baie mense het op gereelde sosiale interaksie staatgemaak om hul gedagtes skerp te hou, maar die spreekwoord sê nood leer bid en die huidige omstandighede vra vir ander planne.
Buiten die gewone raad soos om blokkiesraaisels in te vul en te lees, kan aktiwiteite wat jou gedagtes in 'n nuwe rigting (vir jou) stuur, baie terapeutiese waarde hê.
Tydens inperking kan opgekropte gevoelens kop uitsteek. 'n Uitstekende manier om dit te verwerk, is skryf. Jy hoef nie 'n literêre reus te wees om 'n dagboek te hou of selfs jou lewensverhaal neer te skryf nie. Koppel dit aan die uitsorteer van ou foto's en daar kom dalk nog 'n erfstuk te voorskyn.
Navorsing oor voorgeslagte word deesdae selfs by jong mense al hoe gewilder en daar is heelwat gratis aanlynbronne beskikbaar.
As jy nog altyd 'n nuwe taal wou leer, is dit nou 'n uitstekende tyd om te begin. Duolingo is 'n uitstekende gratis webtuiste waar 'n verskeidenheid tale op jou eie tyd bestudeer kan word.
Rekenaars is nie net die toekoms nie, maar ook die hede. Leer programmeer op gratis webtuistes soos Codecademy of skryf in by Udemy, waar baie meer as programmering gratis geleer kan word.
As fisieke aktiwiteit jou meer aanstaan, is dit dalk 'n goeie tyd om 'n klein tuintjie te begin. Die beplanning van selfs net 'n vensterbanktuintjie kan etlike aangename ure in beslag neem.
Vir kunssinniges kan een van die talle gratis virtuele museumtoere wat nou beskikbaar is, dalk nét die ding wees. Dalk inspireer dit jou genoeg om self te begin teken, of dalk ander kreatiewe talente soos sang te ontwikkel.
As jy nie alleen woon nie, kan bordspeletjies ook heelwat doen om verveling en afstomping teen te werk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'