Update
ALBERTINIA NUUS - Met Vrouemaand pas verby, vertel Lydia Maree van Albertinia wat dit beteken om mamma en pasgetroude vrou te wees.
Sy is die afgelope jaar hier woonagtig en het haar groot liefde op die dorp gevind. "Om pasgetroud in die Covid-19-tyd te wees is vreeslik moeilik, veral in die begin," sê sy.
Maree het maniere om ekstra geld te maak probeer vind en sukkel steeds. Verlede jaar Meimaand het sy oorbelle uit klei begin vorm en verkoop. Haar rede om spesifiek oorbelle te maak is omdat syself sonder oorbelle, nooit werklik vrou voel nie.
Sy reken die mense in Johannesburg is anders. "Hier in Albertinia is jy deel van die familie." Sy bly net buite die dorp tussen kleinboere. "Almal waai vir mens en is altyd vriendelik en Albertinia is ook baie veiliger as Gauteng."
Wat inkomste betref meen sy, is werk baie skaars. Hoewel haar man werk, moet sy ook 'n inkomste verdien. Sy is tans swanger met 'n tweeling. Met 'n glimlag sê sy die swangerskap is beplan en nie 'n glips nie.
Maree se oorbelle pryk in 'n Suid-Afrikaanse trougids. Sy beskou dit as 'n groot eer. "Die Here het my gebring tot waar ek vandag is." Haar leuse en ook die naam van haar besigheid is Spreuke 31. Sy glo 'n vrou kan enigiets doen en is tot enigiets in staat. Haar werk sal die hele jaar in die trougids vertoon word.
Maree se twee kinders wat onderskeidelik vyf en twee jaar oud is, help haar gereeld om kunswerke te vorm. Dit hou hulle besig en sy glo dit stimuleer hul breinontwikkeling.
Sy hoop dat haar passie om oorbelle te maak, ander vroue op hul beurt oor hulleself laat goed voel. Haar Hemelse Vader is haar eerste prioriteit.
Sy wil graag eendag werk skep vir ander, sodat almal 'n inkomste uit haar unieke oorbelle kan verdien. Sodoende wil sy ander mense help om ook bo hul omstandighede uit te styg.
Tans probeer sy kookkuns bemeester.
Die begin van 'n paar oorbelle.
Vorige artikel: Albertinia entrepreneur maak mooi
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'