RIVERSDAL NUUS - Onwettige elektriese aansluitings is lewensgevaarlik.
Na aanleiding van 'n voorval waartydens 'n negejarige kind weens 'n onwettige elektrisiteitsaansluiting in George dood is, het Suid-Kaap Forum 'n navraag aan Hessequa-munisipaliteit gerig om vas te stel wie vir die nagaan van sulke aansluitings verantwoordelik is.
"Die munisipaliteit betreur enige noodlottige geval," het Harold Basson, direkteur: tegniese dienste gesê. "Die verspreiding van elektrisiteit in munisipale voorsieningsgebiede is ons verantwoordelikheid, maar dit kan wissel van dorp tot dorp omdat Eskom in sommige gebiede die voorsiener en bestuurder van die verspreidingsnetwerk is."
Volgens hom voldoen elektriese aansluitings wat deur die munisipaliteit gedoen en bestuur word aan al die nodige voorskrifte. Hulle maak ook seker dat veiligheidswaarskuwingstekens, wat persone teen die gevare van ongemagtigde toegang en elektriese skok waarsku, aangebring word.
"Ongelukkig is daar gevalle waar onwettige elektriese aansluitings deur ongekwalifiseerde persone gedoen word. In sulke gevalle het die munisipaliteit nie beheer oor hoe dit gedoen word nie en kan nie verseker dat dit wettig en veilig is nie."
Onwettige aansluitings is gewoonlik nie geaard (earthed) nie. Dit lei daartoe dat die elektrisiteit deur 'n persoon of dier se liggaam gelei word wat meestal tot die dood of ernstige brandwonde lei. Met onwettige aansluitings lê die lewendige drade soms op die grond of dit raak aan 'n dak, geut of wasgoedlyn en iemand wat daaraan raak, kan doodgeskok word. Die elektrisiteit word van 'n mini-substasie of 'n paal herlei en daar word dikwels met die meter gepeuter of dit word omseil omdat die elektrisiteitdief nie vir die krag wil betaal nie.
Alle onwettige aansluitings wat onder die munisipaliteit se aandag kom, word in ooreenstemming met die toepaslike wetgewing onmiddellik afgesluit tot die nodige regstellings gemaak is. Sulke aansluitings in die streek kan enige tyd van die dag of nag by die munisipaliteit se noodnommer by 028 713 8000 of per e-pos by info@hessequa.gov.za aangemeld word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'