RIVERSDAL NUUS - Na 10 jaar by Group Editors, waarvan die laaste agt jaar as redaktrise van Suid-Kaap Forum, het Wilma Adamson se laaste werkdag op Woensdag 30 November aangebreek.
Sy gaan haar ná haar aftrede, in Klerksdorp verstig, aangesien meeste van haar familie in daardie omgewing woon. Familietyd is vir Wilma uiters belangrik en sy wil nou soveel moontlik tyd saam met die kinders en kleinkinders spandeer.
Wilma het in haar tyd by Suid-Kaap Forum die koerant se aanlynfunksie tot 'n nuwe hoogtepunt gevoer, want sy het besef dat al hoe meer mense graag die nuus en ander gebeure ook aanlyn volg.
Haar geduld met die vryskutkorre-spondente en haar hulpvaardigheid was legendaries en sy sal verseker gemis word. Haar opvolger is Hugo Redelinghuys, ook 'n gesoute koerant- en mediaman, wat darem al 'n tydjie in Riversdal is as senior joernalis en die oorgang sal dus glad verloop.
Wilma sê sy het baie hoogte- en laagte-punte beleef die afgelope 10 jaar, maar 'n hoogtepunt wat haar altyd sal bybly is die man wat vir jare sy vrou op sy fiets Riversdal toe gevat het om te werk.
Hulle bly buite die dorp op 'n plaas en dit was hulle enigste ryding. Wilma het daaroor geskryf en uit die bloute daag daar toe twee fietse op, nogal uit Brasilië.
Laagtepunte was die baie kritiek wat sy soms moes verduur en verwerk, maar hoogtepunte was weer die lof wat sy gekry het na 'n goeie stukkie werk of dan beriggewing asook die baie interessante mense wat sy ontmoet het.
Sy gaan verseker die koerant met sy baie uitdagings mis, maar sy is glad nie van plan om te gaan stilsit nie. Sy gaan Desember met die kinders geniet en volgende jaar besluit waarmee sy haar gaan besig hou. Sy sê egter dat dit glad nie in die mediawese sal wees nie.
Wilma se spore sal nog vir lank in Hessequa lê en hierdie geliefde en gerespekteerde koerantvrou sal sekerlik gemis word, nie net in Hessequa nie, maar ook by die uitgewers van Suid-Kaap Forum, Group Editors.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'