Update
RIVERSDAL NUUS - Die algehele inperking was 'n groot verrassing en 'n absolute uitdaging wat hulle uit hul gemaksone geruk het.
"Ons was nog besig om reg te maak vir die 41ste aanbieding van die Oakdale-rugbyweek toe ons besef dat dit weens die inperking gekanselleer is," sê mnr. André Latsky, hoof van Hoër Landbouskool Oakdale.
Volgens hom het hy en sy personeel binne die eerste week besef hulle sal ten spyte van die inperking met onderrig moet voortgaan. "Gelukkig het meeste van die vakonderwysers vir hul klasse akademiese opdragte vir die vakansie gegee, wat ook in die nuusbrief aan ouers bekend gemaak is."
Buiten die huiswerk is besluit dat aanlynklasse op die verskillende platforms WhatsApp, Google Classroom en Staffroom aangebied sal word. Onderwysers het gedurende die eerste week van die inperkingstydperk hul beplanning gedoen en onmiddellik die klasse begin aanbied.
Beïndruk
"Ek het van die lesse gesien en was regtig beïndruk met die metode van aanbieding en die doeltreffende verduideliking op rekenaar. Klem is gelê op die verpersoonliking van die les sodat leerders steeds met die personeellid wat die vak aanbied, kan vereenselwig. Die lesse sluit kontrole oor die vorige les se huiswerk, ontsluiting en verduideliking van nuwe inhoud, asook opdragte en huiswerk vir die volgende les in."
Die lesse is baie korter as die normale duur van 'n periode, maar sluit ook 'n komponent vir selfwerksaamheid deur die leerder in. Leerders kan per WhatsApp of op die rekenaar vrae vra en hul werk per e-pos indien.
Die onderrigprogram en huiswerk vir die volgende week vir al die leerders word op 'n Donderdag per e-pos aan al die ouers gestuur sodat hulle weet hoeveel werk en tyd in die daaropvolgende week daaraan gewy moet word. "Personeel bestee geweldig baie tyd aan voorbereiding en leer by mekaar rakende die tegnologie en nuwe aanlyn-onderrigmetodiek," sê hy.
Die grootste uitdaging is die onsekerheid oor die duur van die grendeltyd. "Ons besef dat nie al ons leerders oor die tegnologie beskik om by aanlyn-onderrig baat te vind nie. Van hulle het ook hul skooltasse vir die duur van die skoolvakansie by die koshuis gelos en onderwysers doen baie moeite om voorbereidende leermateriaal beskikbaar te stel. Terugvoering van leerders en ouers is heel positief."
Matrieks
Hy meen die 2020-matriekgroep sal baie hard moet werk en die opdragte met toewyding en werkywer aanpak. "Ons probeer ons leerders motiveer en van 'n objektiewe beeld van wat vir hulle voorlê, voorsien. Aanlyn-klasse sal nooit die plek van 'n klaskamer en persoonlike bemoeienis van 'n opvoeder kan inneem nie. Ons sal ons leerders so gou moontlik in die klaskamer moet terugkry en hard moet werk sodat hulle aan die einde van die jaar matrieksamen kan skryf. Dit sal afhang wanneer die leerders kan terugkeer skool toe en of die eksamendatum gewysig kan word."
Hy is jammer vir die matrieks wat so 'n groot deel van hul jaar se buitemuurse- en sportaktiwiteite misloop. "Iets wat dié matriekklas altyd sal onthou is om al die geleenthede wat hulle gebied word, te waardeer en ten volle te benut, want nie alles in die lewe is 'n gegewe nie."
Begrotings
Hy meen Covid-19 en die inperking skep vir almal enorme uitdagings en eis opofferings soos nooit tevore nie. "Skole, beheerliggame, ouers en skoolgemeenskappe sal binnekort besluite oor begrotings, fondsinsamelingsprojekte wat nie gerealiseer het nie en die inperking van uitgawes wat weens die koronavirus nie meer aangegaan kan word nie, moet neem. Skole op sigself is besighede wat drastiese inperkinge in die gesig staar. Daarmee saam sal ons moet besef dat die hele skoolgemeenskap en ondernemings in ons omgewing die kans gegun moet word om 'op te staan' voor hulle as ons 'vennote in onderwys' weer hul normale bydraes kan lewer in terme van borgskappe en bydraes."
Hy en sy personeel is baie positief. "Ons sal wel moet planne maak, maar solank ons oor geesdriftige onderwyspersoneel en 'n betrokke en ondersteunende ouergemeenskap beskik, sal niks ons onderkry nie. Ons moet ophou kla oor nietighede en beskikbare tyd doeltreffend in belang van elke leerder in ons skole aanwend. Ons moet dankbaar wees vir die energie van onderwysers en die ekstra myl wat hulle in belang van ons leerders stap. Ons sal opnuut op ons knieë moet bly en aan ons leerders die versekering van sukses moet uitleef en voorleef."
Teaching staff at Oakdale Agricultural High School in Riversdale are continuing teaching via online lessons.
Vorige artikel: Skool gaan aanlyn voort
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'