RIVERSDAL NUUS - Baie van die onkruid in ons tuine is eintlik lekker kos, sê Jurie van der Walt, kenner van veldkos.
Hy vertel meer oor onkruid wat propvol voedingswaarde is en wat in heerlike geregte omskep kan word.
Wilde suring (Oxalis Pes-Caprae; Engels: Sorrel)
Die hele plant wat suurderig smaak, is eetbaar en kan vars in slaai gebruik word. Die blomme en wortels word met sout, peper en fyngekapte knoffel gaargemaak. Die suurderige smaak is gewild in Maleisiese geregte. Omdat die suur smaak deur oksaalsuur veroorsaak word, kan te veel daarvan vir jou nadelig wees. Die plant bevat vitamien A en C, is ’n dorslessser en help spysvertering aan.
Perdeblom (Taraxacum officinale; Engels: dandelion, Irish daisy, puffball)
Weens die plant se talle medisinale eienskappe word dit as ’n wonderkruid beskou. Die blare en geel blommetjies word rou saam met gekookte eiers in slaai of in bredies gebruik. Dis beter om jong blare wat ’n mosterdagtige smaak het, as ou, bitter blare te gebruik. Die blare word ook gebruik om perdeblomwyn te maak. Die basis van die wyn, wat veral in Engeland gewild is, is gefermenteerde vrugtesap of -ekstrak. Konfyt word ook van die blare gekook en in Pole word dit in plaas van heuning in suurlemoendrankies gebruik. Die gedroogte wortels word in verskeie Oos-Europese lande as plaasvervanger vir kafeïenvrye koffie gebruik.
Die plant is propvol vitamien A, B, C en D en bevat groot hoeveelhede natuurlike kalium, yster en proteïene. Die wortels en blare wat as ’n tee voorberei word, verwyder gifstowwe uit die liggaam. Dis goed vir die lewer, asook vir artritis en rumatiek. Gebruik twee teelepelsvol blare op ’n koppie kookwater, wat eers vir vyf minute afgekoel moet word voor dit oor die blare gegiet word. Die melkerige sap van die blare word gebruik om blase op die hande en voete gesond te maak en selfs om vratjies te verwyder.
Perdeblom. Foto’s verskaf
Gansevoet (misbredie of koringbossie - Chenopodium album; Engels: goosefoot, lambs’ quarters, wheat bush)
Die plant met baie voedingswaarde word in Afrika en Asiatiese lande as groentegewas verbou. Die blare en jong stingels word as blaargroente net soos spinasie met aartappels en uie en dalk ’n paar stukkies tamaties gekook. Op die Suid-Afrikaanse platteland word dit by bredies en sop gevoeg, terwyl dit in Indië in kerriegeregte en in gevulde platbrode gebruik word. Fyngesnyde blare kan by slaai of enige ander gereg as groenigheid gevoeg word.
Die klein, swart saadjies wat ryk aan proteïen is, vitamien A, kalsium, fosfor en kalium word fyn gemaal en pap word daarvan gemaak. Ontkiemde saadjies kan in ook slaai gebruik word.
Die plant is gedurende die Tweede Wêreldoorlog, toe mense in Europa honger gely en op onkruid as kos moes staatmaak, gebruik. Die jong blomknoppe word as plaasvervanger vir brokkoli en die jong stammetjies soos aspersies gebruik. Die eetbare dele bevat meer yster en proteïene as kool of spinasie en meer vitamien B1 en kalsium as rou koolblare. Net 100 g blare bevat 16% vesel, 133% van die daaglikse aanbevole dosis vitamien C, 232% vitamien A en 31% kalium.
Gansevoet
Vorige artikel: Onkruid, of kos - Deel 1
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'