RIVERSDAL NUUS - Met die inperking wat nog ’n rukkie gaan voortduur, gaan jy waarskynlik al die bossies in jou tuin se name ken.
Maar het jy geweet baie van die sogenaamde onkruid wat mens uitskoffel en op die komposhoop of in die asdrom gooi, is eintlik eetbaar?
Jurie van der Walt is ’n deskundige op die gebied van kossoorte van Afrika. Hy vertel meer oor onkruid wat eintlik lekker kos is.
Porseleinblaar (Portulaca oleracea; Engels: hogweed, moss rose)
Die onkruid, wat plat op die grond groei, kom van die Kaap tot diep in Afrika voor en word deur talle mense as groente geëet. Dis beter om die sappige klein blaartjies vroegoggend te oes. C Louis Leipoldt, skrywer en koskenner, het aanbeveel die blaartjies moet goed gewas en met bietjie gemmer, knoffel, sout, peper en foelie (mace) in vet gebraai word. Bedien dit met kapokaartappels of rys, of eet die blaartjies net so rou of in ’n slaai.
Die blare en stingels bevat meer Omega-3 as enige ander blaargroentes, spinasie en kool ingesluit en selfs meer as olierige vis. Dis ook gelaai met vitamien A, C en E en bevat ses keer meer vitamien E as spinasie. Dit bevat ook kalsium, magnesium, kalium en fosfor.
Brandnetel (Urtica urens/Urtica dioica; Engels: stinging nettle)
Die plant het sy oorsprong in Amerika, waar die inheemse bevolking dit as kos en medisyne gebruik het, maar ook tou en visnette van die veselrige stam gevleg het. Die blare, wat hul byt verloor wanneer dit gekook word, word met aartappels of droë bone, sout, peper en bietjie olyfolie gekook en as ’n heerlike bredie voorgesit. Dit kan in die plek van enige blaargroente gebruik word en die wortels kan soos witwortel of rape gaargemaak word.
Die blare bevat baie vitamien A en C, asook magnesium, proteïene, fosfor en swael. As medisyne help dit blykbaar vir ekseem, jeukplekke en aambeie om die bloed skoon te maak en om vroue wat borsvoed meer melk te gee.
Laat brandnetels vir twee weke in ’n emmer water staan en gebruik as plantvoeding en om slakke weg te hou.
Brandnetel
Knopkruid (Galinsoga parviflora; Engels chickweed)
Die plant het sy oorsprong in Suid-Amerika, maar kom vandag oral in die wêreld voor. Dit is veral gewild as voedsel in Zimbabwe, Malawi, Zambië, Tanzanië en Uganda en word geoes wanneer die landerye geskoffel word. Die jong blaartjies en stammetjies word gekook en geëet, maar die blommetjies word gewoonlik weggegooi. In Colombië word die plant as spesery in ’n hoendergereg gebruik. Die hele plant word ook in smootjies, slaai en vrugtedrankies gebruik of gedroog en as geurmiddel in sop gegooi. Rou, jong blare bevat 284 mg kalsium per 100g blare - twee keer meer as pietersielie. Dis ook ryk aan vitamien A, B en C, magnesium, sink en kalium. In Ethiopië word die blare gebruik om oop wonde te bedek.
Knopkruid
- Lees volgende week oor nog onkruide wat as kos gebruik kan word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'