Update
GOURITSMOND NUUS - Die polisie versoek die hulp van die publiek met die identifisering van 'n man wat Maandagaand 22 April in 'n ongeluk op die Gouritsbrug onherkenbaar verkool het.
"Ons het die wit Volkswagen Jetta se registrasienommer, CAW 23596, teruggespoor na 'n wit manspersoon wat volgens die Natis-voertuigregistrasiestelsel in 'n sekerheidskompleks op Sedgefield woon," het sers. Ebrahim Kapp, woordvoerder van Kwanonqaba-polisie op Mosselbaai gesê. "Die persoon was egter nie by die adres bekend nie."
Die voertuig was klaarblyklik onderweg in die rigting van Kaapstad toe dit omstreeks 21:10 reg van voor met 'n vragmotor gebots het. Albei voertuie het uitgebrand.
Die 49-jarige vragmotor-bestuurder van Robertson kon betyds uit die voertuig ontsnap en is ongedeerd.
Hy was vanaf Kaapstad na die Oos-Kaap onderweg in 'n Mercedes Superlink-vragmotor met 'n sleepwa.
Provinsiale verkeersbeamptes was eerste op die toneel en verkeer op die N2 is ontwrig terwyl die toneel opgeruim is.
Volgens Kapp is dit nie bekend presies wat tot die ongeluk gelei het nie. "Ons is nog in die duister oor wat die ongeluk veroorsaak het. 'n Saak van strafbare manslag is geopen en Kwanonqaba-speurders ondersoek die saak. Geen name mag nou al bekend gemaak word nie."
• Lees 'n vorige artikel hier: Fatal crash at Gourits bridge
Die bestuurder van 'n wit Volkswagen Jetta met 'n George-registrasienommer is Maandagaand in 'n tromopbotsing op die Gouritsbrug onherkenbaar verkool.
Verkeer is lank ontwrig terwyl die toneel opgeruim word.
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'