HESSEQUA NUUS - Jy het pas iemand wat iets ongeloofliks gedoen het, afgeneem en jy brand om die foto met ander te deel: Het jy die reg daartoe?
Die antwoord op dié vraag is nie net ’n eenvoudige ja of nee nie, want baie hang van die omstandighede af.
Weet hy of sy dat die foto geneem is? Het die persoon toestemming tot die foto gegee? Is toestemming dat die foto versprei mag word gegee en indien wel, vir watter doel? Gaan geld met die foto verdien word? Is die persoon in die openbaar of in ’n privaat ruimte afgeneem?
Daar bestaan nie ’n wet in Suid-Afrika wat spesifiek oor die neem van foto’s en kopiereg daarop handel nie. Die enigste regstreekse wetlike verbod is op foto’s wat staatsveiligheid in gevaar kan stel. Daar word wel duidelik in die reg tussen openbare teenwoordigheid en privaatheid onderskei. Een van die kernvrae handel dus oor die definisie van openbare ruimtes.
’n Openbare ruimte word omskryf as enige spasie wat maklik vanaf openbare areas soos strate en sypaadjies sigbaar is en nie privaat besit word nie. Dis ook die beginsel waarop Google Street View toegelaat word. Dis belangrik om daarop te let dat heelwat winkelsentrums in Suid-Afrika in die hande van privaat eienaars is en nie as openbare ruimtes beskou kan word nie. Ongemagtigde fotonemery op sulke persele is strafregtelik vervolgbaar.
Indien die fotograaf finansiële voordeel uit die gebruik van foto’s wat in openbare ruimtes geneem is sal trek, moet toestemming vooraf gekry word. Beteken dit dus sulke foto’s kan maar in ’n gratis publikasie of op sosiale media sonder onaangename gevolge gebruik word? Die vraag om te beantwoord bly steeds of gebruik van die foto die persoon se reg op privaatheid sal skend. Indien wel, word ’n oortreding gepleeg.
Kopiereg ontstaan sodra ’n foto fisiese vorm kry, byvoorbeeld wanneer dit op ’n rekenaar afgelaai of gedruk word. Dis ’n wanopvatting dat foto’s wat algemeen op die web beskikbaar is, verander na publieke domein en daarom hul kopiereg verloor. Die metadata op Google kan gelees word en kopiereg is afdwingbaar.
Dink dus twee keer voor foto’s gedeel word.
IN SHORT
The sharing of pictures taken of people who did not consent to sharing will always be a contentious issue. While South African law allows for photography in public spaces, the bottom line always remains whether a person’s privacy can be invaded by publication of the picture. It is also important to remember that copyright comes into existence the moment a picture is put into physical form, which includes being downloaded to a computer. That means most images on Google are not in the public domain and copyright can be enforced.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'