Die koerant is die afgelope week weer gekontak deur hoogs ontstoke inwoners nadat persone verbonde aan die maatskappy weer opgemerk is in Stilbaai waar hul besig was om oesters van die rotse te verwyder. Heelwat van die inwoners is van mening dat die betrokke maatskappy se werkers die Stilbaai kuslyn en bronne plunder.
Inwoners wat ook permitte besit om oesters uit te haal beweer ook dat dit baie opmerklik is dat oesters langs die Stilbaai kuslyn heelwat kleiner en minder raak. Die manier hoe die oesters uitgehaal word, word ook bevraagteken aangesien nie slegs die oesters uitgehaal word nie, maar stukke sandsteen rots ook afgekap word wat veroorsaak dat die inter-getysone habitat skade ly. Inwoners wat in gesprek was met die koerant voel dat die maatskappy se bedrywighede bloot stropery is van Stilbaai se kus en dat aangedring moet word om dit te staak.
Die maatskappy besit reeds 'n aantal jaar 'n wettige kommersiële lisensie, wat hulle toelaat om soveel oesters as wat hulle wil, te oes. Volgens inligting word oesters in Stilbaai nie volgens getal of grootte geoes nie.
Mariene en kusbestuur het in die verlede bepaal dat hulle heeltemal professioneel en volgens wetlike voorskrifte optree. Stilbaai se inwoners stem nie hiermee saam nie.
Natuurkenners in Stilbaai en Hessequa stem ook nie saam met die mening nie, maar is CapeNature se hande afgekap in die verband. Volgens inligting is die kommersiële permit ook toegestaan om sodoende ekonomiese bemagtiging te bewerkstellig, maar is daar absoluut geen voordeel vir die plaaslike gemeenskap nie en is die vraag waarom 'n maatskappy wat byna 100km vanaf Stilbaai en Melkhoutfontein geleë is die voordeel kan trek tot nadeel van die plaaslike gemeenskap.
Daar is ook glad nie plaaslik advertensies geplaas in die verband nie, so plaaslike persone het ook nie die geleentheid gehad om aansoek te doen vir die spesifieke permit nie. Daar is gehoop dat met die proklamering van die Stilbaai Beskermde Mariene gebied hierdie soort oestery nie toegelaat sou word nie en dat bronne meer beskerming sou geniet, dit blyk egter of dit nie so is nie. Tans wil dit ook blyk of die kwessie nie 'n werkbare oplossing het nie, tot nadeel van die Stilbaai kuslyn.
Kommentaar:
Suid-Kaap FORUM het mnr. Lionel Adendorff, direkteur van kommunikasie van die departement van landbou, bosbou en visserye genader vir kommentaar. Teen saktyd is geen reaksie of kommentaar vanaf Adendorff of die departement mariene en kusbestuur ontvang nie.
Lisensies word benodig om oesters kommersieël of vir eie gebruik uit te haal. Doen gerus navraag by Mariene en Kusbestuur vir meer inligting oor die uithaal van skulpvis, aas of hengelregulasies. Die nodige permitte is beskikbaar by die Stilbaai Poskantoor.

Persone verbonde aan die maatskappy van Mosselbaai besig om oesters uit te haal in Stilbaai. Foto’s: verskaf
ARTIKEL: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS