Gallery
RIVERSDAL NUUS - Oakdale se toutrekbulle het by die afgelope Wêreldkampioenskappe in Switserland geskiedenis gemaak toe hulle vir die tweede agtereenvolgende jaar as wêreldkampioen gekroon is.
In die geskiedenis van toutrek kon geen span dit nog regkry om die wêreldkroon twee jaar na mekaar in te palm nie.
"Dis een vir die rekordboeke," vertel Piet Lourens, afrigter van Oakdale se 560 kg-toutrekspan, wat as die Proteaspan aangewys is om Suid-Afrika in Sursee in Switserland op die Wêreldkampioenskap te verteenwoordig. Dié kampioenskap het van 31 Augustus tot 3 September geduur.
Oakdale het al sewe trekke gewen en in die uitdunrondes met Switserland, Engeland, Nederland, Duitsland, België, Ierland en Wallis afgereken. Soos verlede jaar het hulle Nederland in die halfeindronde uitgeskakel voordat hulle Chinese Taipei (ou Taiwan) in die eindstryd met 2 - 0 getroef het.
Lourens het aan Suid-Kaap Forum vertel dat hulle versigtig optimisties was oor hul wenkanse. "Ons het met realistiese selfvertroue na Switserland vertrek met die wete dat ons deeglik voorberei het. Dit was oefen, oefen en oefen die afgelope agt maande vir ses dae 'n week, twee uur elke dag.
"As jy die toppunt in enige sportsoort wil bereik, geld die beginsel van alles of niks. Veral in 'n uitputtende sportsoort soos toutrek kan jy niks halfhartig doen nie. Dit moet ek die seuns ter ere gee: daar is nie lyf weggesteek nie. Buite-aktiwiteite is tydens hul voorbereiding totaal op die agtergrond geskuif met toutrek wat as't ware hul lewens oorheers het. Dit verg ysere dissipline, algehele toewyding en ure se oefening. Naweke is opgeoffer."
Lourens sê hul voorbereiding het op drie pilare gerus: baie fisieke touwerk, tyd in die gimnasium om spiere te versterk en padwerk. Die seuns moes elke dag 3 km draf.
"Ons het natuurlik ons huiswerk deeglik gedoen, video's van die oorsese spanne bestudeer en ook gekyk of daar bekende gesigte onder van die spanne is.
"Al die Europese spanne het, soos met enige groot internasionale sporttoernooi, vooraf aan kwalifiserende rondes deelgeneem waar die swakker spanne uitgeskakel is. Ons het dus met Europa se beste van die bestes te doen gekry. By die Wêreldkampioenskap was daar nie iets soos 'n maklike trek nie juis omdat jy teen die topspanne deelgeneem het. Gelukkig vir Oakdale het ons in die somermaande aan skoletoernooie deelgeneem en daarna gedurende die winter teen senior klubspanne wat ons toutrekfiks gehou het."
Lourens sê 'n groot rede vir Oakdale se sukses is dat al agt spanlede tydens die uitduntrekke dieselfde ding op dieselfde tyd in harmonie gedoen het. "Dit het soos 'n goed geoliede masjien geloop."
FOTOGALERY: Wêreldkampioene - vir die tweede agtereenvolgende jaar
Abrie de Wet, spanbestuurder van Oakdale, vertel die feit dat hulle vooraf op harde sowel as sagte, nat oppervlaktes geoefen het, het ook 'n rol in hul sukses gespeel. "Afgesien van jou fiksheid en deursettingsvermoë moet jy vinnig by enige oppervlakte kan aanpas."
Hy sê die hordes boodskappe van ondersteuning van Oakdale se oudtrekkers het hulle goed gemotiveer. "Die trane het maar vlak in die manne se oë gelê en veral André Latsky, oudhoof, se besielende boodskap was 'n groot aansporing om hul alles te gee.
Willem du Buisson, skoolhoof, sê hy is ongelooflik trots op Oakdale-toutrekspan se prestasies. "Om eenkeer gekroon te word as wêreldkampioen is spesiaal, maar om dit twee jaar in ’n ry te doen, is uitsonderlik.
"Hierdie prestasie beteken baie vir die skool en die breër gemeenskap. Riversdal is ’n klein gemeenskap en baie mense het ons gelukgewens. Dit wys maar net weereens dat jy nie by 'n groot skool hoef te wees om uitsonderlike prestasies te lewer nie.
Hy sê dit sou baie voorbarig gewees het om die prestasie as ’n gegewe te sien. "Elke jaar is dit ’n nuwe span met hulle eie sterk punte. Vanjaar se span was beslis onder meer druk gewees omrede ons deelgeneem het as die wêreldkampioene. Ons het geweet dat dit ’n goeie span was en ons het voorberei om te wen, maar enigiets kan by só ’n kompetisie gebeur."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’