Update
RIVERSDAL NUUS - Julle ramkatte! Hoër Landbouskool Oakdale se 560 kg-toutrekspan het 'n droogte van agt jaar gebreek deur in Nederland by die Wêreldtoutrek-kampioenskappe as die nuwe wêreldkam-pioen in hul gewigsafdeling gekroon te word.
Hulle kon die prestasie in 2014 laas vermag waarna Switserland oorgeneem en die wêreldkroon tot 2021 gedra het.
Om sout verder in die wonde van hul teenstanders te vryf, het die Bulle van Riversdal in twee kompetisies in die 560 kg-afdeling koning gekraai om dubbele glorie te smaak.
Oakdale se deelname was vir 'n wyle in die weegskaal nadat sy agtmanspan te swaar vir hul gewigsafdeling geweeg het. Die span moes binne twee weke 48 kg afskud voordat hulle op 11 September na Nederland kon vertrek. En om in 'n swaarder afdeling deel te neem was beslis nie 'n opsie nie.
"Daar was net een oplossing," vertel Oakdale se befaamde afrigter, Piet Lourens, vir Suid-Kaap Forum vanuit Amsterdam: "Oefen, oefen en nogmaals oefen. En vir 'n paar dae kon die seuns omtrent niks geëet het nie, maar dit het gewerk. Ons kon oorsee vlieg."
Die span het van 15 tot 18 September aan die wêreldkampioenskappe in Holten, Nederland deelgeneem. Hulle het op dag een aan die Internasionale Toutrekfederasie se Wêreld Opeklubkampioenskap teen 12 spanne deelgeneem en van meet af aan hul teenstanders uitoorlê en skoonskip gemaak.
In die proses het hulle afgereken met Frankryk, Duitsland, Ierland, Nederland, Oakdale B, Swellendam B, Breërivierklub A (almal van Suid-Afrika), Switserland (twee spanne), China, Thailand en Engeland.
Oakdale het die Chinese Taipei-klubspan Sho Shan in die eindronde geklop.
By die internasionale byeenkoms daarna het Oakdale hul hakke behoorlik in die Nederlandse grond ingeslaan en die sewe spanne in hul gewigsafdeling se turf laat sit en nie 'n enkele trek afgestaan nie.
Eers het hulle vir Engeland, Thailand, Switserland, Duitsland en Frankryk met 2 - 0 vasgeknoop voordat hulle die gasheer, Nederland, in die halfeindronde omgeklink het.
Maar Oakdale het die coup de grâce gehou vir die eindronde waar hy sy segetog voortgesit het deur die Chinese Taipei-span met 2 - 0 te troef. Lourens sê dit was 'n geval van "benoude boude," want almal was maar op hul senuwees. "Die een trek het 10 minute en 17 sekondes geduur - een van die langstes by die wêreldtoernooi. Die tweede trek was 'n traps langer as vyf minute en saam het dit die span se energie behoorlik getap."
Oakdale moes hul voorbereiding aanpas omdat die toestande heel anders was as waaraan hulle gewoond was. "Nederland was maar nat, koud en modderig, maar ons het spesifiek daarvoor voorberei deur twee sandslote te grawe wat ons nat gemaak het voordat ons geoefen het.
"Ons het beslis nie onvoorbereid opgedaag nie. Ons benadering was soos dié van die Springbok-rugbyspan wat vir 'n toets teen byvoorbeeld Argentinië voorberei het. Dit was intens."
Lourens, wat Oakdale vanjaar vir die 22ste keer afgerig het, sê 'n baie groot rede vir hul sukses kan toegeskryf word aan hul toegewyde oefenprogram. "One het letterlik ses dae per week geoefen en gereeld tyd in die gimnasium deurgebring.
Dié strawwe oefenprogram is regdeur die jaar nougeset gevolg.
"Ons het ook video-analises van die ander spanne bestudeer en 'n teenvoeter daarvoor uitgewerk."
Lourens sê die herverowering van die wêreldkroon is 'n onbeskryflike gevoel. "Ons is steeds ekstaties en die wow-gevoel wil net nie weggaan nie. Aan die een kant is daar groot verligting dat ons met al die topspanne afgereken het, en aan die ander kant daardie euforiese gevoel wat woorde nie kan beskryf nie. Wow, wow, wow!
"Dis 'n proses waaraan ons die afgelope drie jaar gebou het en nou het als eensklaps bymekaargekom. Dis 'n groot verligting."
Dit was die agtste keer wat Oakdale Suid-Afrika by die wêreldkampioenskappe verteenwoordig het.
Vir die klompie verloorspanne: teen brute krag, konsentrasie, tegniek en algehele toewyding is daar nie raad nie.
Vreugde en trane nadat Oakdale die Chinese Chinese Taipei-span met 2 - 0 in die eindronde getroef het om weer as wêreldkampioen gekroon te word.
Piet Lourens, afrigter van Oakdale se 560 kg-toutrekspan, moedig die manne aan om hul rûe styf te maak. Foto's: Hoër Landbouskool Oakdale
Vorige artikel: Oakdale weer toutrekwêreldkampioen
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'