Update
HESSEQUA NUUS - Die uitrol van 'n nuwe elektroniese handtoestelsisteem sal Hessequa-verkeersbeamptes in staat stel om die uitreik van boetes meer vaartbelyn te maak.
Die toestel staan bekend as die elektroniese boete uitreikingstelsel. Motoriste se inligting kan outomaties gelees word deur die nommerplaat of bestuurderslisensie te skandeer.
Wat belangrik is vir die gemeenskap om in ag te neem, is dat die beampte wat die boetes uitreik in besit moet wees van 'n aanstellingsertifikaat.
Indien die aanstellingsertifikaat nie getoon kan word nie, mag die betrokke persoon nie 'n boete uitreik nie.
Bestuurders se inligting word outomatiese gelaai op die elektroniese toestel, inplaas daarvan dat dit met die hand ingevul word op die ou-pienkkaartjie.
'n Boetekaartjie word onmiddellik uitgedruk deur middel van 'n mobiele drukker en aan die bestuurder oorhandig.
Die oortreder kan boetes vinniger betaal aangesien die inligting reeds op die stelsel verskyn.
Boetes kan deur middel van elektroniese fondsoordrag betaal word, by munisipale kassiertoonbanke of by die verkeerskantoor.
Adneshel Voss, bestuurder beskermingsdienste, noem dat die gebruik van die toestel deur die landdrosforum en die staatsaanklaer aanvaar word.
Geen inligting soos wat op die ou boetekaartjie verskyn het is weggelaat nie, inteendeel die elektroniese toestel bevat meer inligting.
Waarom gebruik munisipaliteite hierdie toestelle?
- Dit sny baie papierwerk uit en verminder die gebruik van stoorspasie.
- Verminder menslike foute met die uitreiking van die boetes.
- Bevat meer inligting oor die bestuurder en uitstaande boetes.
- Kostebesparing vir die raad.
- Verminder die gebruik van papier.
ARTIKEL: SAN-MARIÉ CRONJÉ, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'