Gallery
RIVERSDAL NUUS - Al wat erger is as om blind te wees, is om sig sónder visie te hê.
Met hierdie woorde van Helen Keller het Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport die mini-biblioteek vir blindes Donderdag, 22 April op Riversdal geopen.
"Deur toegang tot inligting te verskaf, ondersteun biblioteke gemeenskappe in hul verkenning en uitdaging van hindernisse, waardes en gedrag. Biblioteke bewerkstellig sosiale integrering."
Sy sê dit is altyd 'n groot voorreg om 'n biblioteek te open en dit is selfs 'n groter voorreg om biblioteke in die landelike dele van die provinsie te open.
"Op Riversdal open ons nie net ruimte wat boeke in die reeds pragtige biblioteek huisves nie, ons skep 'n hele nuwe wêreld vir die blinde gemeenskap van die groter Hessequa-streek."
Fotogalery: Biblioteek vir blindes geopen
Sy het benadruk dat biblioteke mense verryk en hul visie voed. Dit bied nie net ontvlugting met ontspanningsliteratuur nie, maar noodsaaklike naslaankennis oor oneindige onderwerpe in verskeie tale - ook dié van die blinde.
Vóór die digitale era was biblioteke noodsaaklike naslaansentrums. Talle skooltake en werksopdragte het hiér gestalte gekry en het daartoe bygedra dat leerders matriek geslaag het. Die moderne biblioteek bied nie slegs toegang tot koerante en aktualiteit en tydskrifte en ontspanning nie; dit bied ook toegang tot die digitale wêreld.
"Naas onderwys, gesondheid- en ekonomiese geleenthede, is daar ander faktore wat bydra tot die strategiese doelwitte om armoede uit te skakel. Biblioteke betrek gemeenskappe by sake van maatskaplike belang en hulle moedig die maatskaplike integrering van ons almal aan."
Marais sê sy het die mees gesofistikeerde drome en verwagtinge van dié biblioteek as 'n bymekaarkomplek vir álmal.
"Biblioteke stoor die energie wat die verbeelding laat vlam vat. Dit is die vensters na die wêreld en inspireer ons om te verken, te presteer en by te dra tot die verbetering van lewensgehalte. Biblioteke beïnvloed en vernuwe ten goede."
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, onderburgemeester Johannes Hartnick en die munisipale bestuurder, Johan Jacobs het ook kort toesprake gelewer.
Die besoekers is met sang, voordrag en dans deur leerders van Lekker Laggies, onder leiding van Small Dreams se skoolhoof, Tammy Kleinhans en Voorwaarts Primêr vermaak.
Vorige artikel: Bib vir blindes amptelik oop
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'