Gallery
HEIDELBERG NUUS - Daar is 'n welkome oplewing in skaak in Hessequa nadat Gretha Conradie, 'n plaaslike opvoeder by Hoërskool Heidelberg en 'n Hessequa-ontwikkelingsbeampte, ingegryp en 'n skaakklub gestig het.
Met dié nuwe klub wil sy nie net skaak in die streek bevorder nie, maar leerders van alle ouderdomme daaraan blootstel. Sy hoop 'n gesonde skaakgees steek by veral die jonger geslag aan, maar alle jongmense is welkom.
Conradie, self 'n passievolle en talentvolle skaakspeler, het begin Julie nagenoeg 90 leerders van plaaslike skole by die Duivenhoks-biblioteek touwys gemaak in die fynere kunsies van dié sport.
Aan die einde van die week is wenners aangewys en alle deelnemers het elk 'n sertifikaat ontvang.
Die jongste deelnemer is in gr. R en die oudstes in gr. 9.
Conradie sê almal wat belangstel om by die klub aan te sluit, ongeag hul ouderdom, is baie welkom. Die aansluitingsfooi is 'n skrale R10 per jaar.
"Vir diegene wat die week lange sessies bygewoon het en in die eerste maand, Julie, aangesluit het, is dit gratis."
Die klub is by die Eden-skaakfederasie as vollid geaffilieer.
FOTOGALERY: Nuwe skaakklub geopen in Heidelberg
Jong leerders met hul bywoningsertifikate na afloop van 'n week lange skaakbewusmakingsweek by die Duivenhoks-biblioteek. Agter staan van die biblioteekpersoneel saam met Gretha Conradie, 'n plaaslike opvoeder en Hessequa-skaakontwikkelingsbeampte (agter tweede van regs).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’