Update
RIVERSDAL NUUS - Motoriste is moedeloos met die jongste styging van die brandstofprys waarvoor hulle nou meer as R15/liter moet betaal.
Die nuwe pryse het Woensdag 3 April om 00:00 in werking getree. Die 93-oktaan petrol kos nou R1,34c/liter en 95-oktaan R1,31c/liter meer. Diesel met 0.5% swael-inhoud kos nou 81,1c/liter en diesel met 0,005% swael-inhoud 82,70c/liter meer.
Suid-Kaap Forum het 'n opname onder motoriste gedoen om vas te stel hoe hulle oor die prysstyging voel en wat hulle kan doen om dit teen te werk.
Philip Miggels van Riversdal ry met 'n ouerige passasiersvoertuig. "Die prysstyging is 'n moeilike saak, want kos en ander goed se pryse styg ook. Mense kan nou maar sê ek is rassisties, maar die swart regering is nie in staat om die land te bestuur nie. En wat word van die brandstof wat by Mossgas vervaardig word?"
Koos van Graan en sy vrou Jeanette van Patensie in die Oos-Kaap is afgetrede onderwysers wat graag met hul 4x4 diesel-bakkie in die binneland en buurlande toer. Hulle is juis op pad terug huis toe na hulle in Mosambiek getoer het. "Ons het gewoonlik twee maal 'n jaar 'n maand lank getoer en dan sowat 6 000 km afgelê. Voortaan sal ons maar net een maal per jaar gaan toer."
Wilhelm Bouwer van Stilbaai boer met vleisbeeste en dekriet, maar bedryf ook 'n vervoermaatskappy wat van vragmotors gebruik maak. "Die nuwe pryse gee ons kwaai pak, want al moet ons dadelik betaal, kan ons nie sommer skielik die prys vir ons klante opskuif nie. Ons sal dit geleidelik moet deurgee. Mens kan ook nie juis minder ry nie."
Rose Prins, 'n huisvrou van Riversdal, ry ook met 'n diesel-bakkie. "Ek kan nie anders as om te ry nie, want ons bly in Môrestond.
"Ek laai soggens my man by die werk en die kinders by die hoërskool af en gaan haal hulle weer in die middag. Boonop moet ek my skoonma, Ada Prins (80) vervoer, want sy kan nie meer stap nie. Ek weet nie meer waar om te besnoei nie, want 'n mens kan nie minder kos koop nie."
Gaby le Roux en sy vrou Cornelia is pensioenarisse van Riversdal. "Cornelia is in Desember 2018 onverwags met kanker gediagnoseer en ek moet haar altesaam 37 keer George toe neem vir die verskillende tipes behandeling. Die brandstof-prysstyging maak dit baie duur. Maar ons kan niks daaraan doen nie - ons moet dit maar net aanvaar en betaal."
Gaby le Roux: "Ons moet 37 keer George toe ry vir mediese behandeling." Foto's: Tisha Steyn
Rose Prins: "Mens kan nie minder kos koop nie."
Wilhelm Bouwer: "Die nuwe pryse gee ons pak."
Koos van Graan: "Ons sal maar minder moet reis."
Philip Miggels: "Wat word van Mossgas se brandstof?"
Lees 'n vorige artikel hier: Nuwe brandstofprys gaan motoriste wurg
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'