STILBAAI NUUS - Die nuutgeboude afdak by die brugmark is onlangs deur die uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, Grant Riddles, en die munisipale bestuurder, Albert de Klerk, geopen.
Die speaker, Andrew Stroebel, en Rachel Wall het die verteenwoordigers toegespreek waarna die burgemeester die lint geknip het as simboliek vir die opening van die "nuwe" brugmark in Stilbaai.
Die voormalige Stilbaai-munisipaliteit het gedurende 1989 die brugmarkstalletjies begin bou. Die naam is afkomstig van die ligging naby aan die Goukourivierbrug.
Die Stilbaai-brugmark het 'n ryk geskiedenis sedert dit in 1995 nuwe lewe gekry het danksy die toetrede van die uitvoerende burgemeester, dr. Henry Rossouw, toe die stalletjiedeure vir 'n jaarlikse Desember-mark oopgemaak is.
Gedurende April 2014 het inwoners van Stilbaai begin om een keer 'n maand 'n markdag te hou met ses stalletjiehouers wat later gegroei het na veertien en toe elke Saterdag bymekaargekom het.
Die Stilbaai-sakekamer het begin klagtes ontvang dat die mark nie geleentheid vir plaaslike entrepreneurs bied nie. Hulle het toe in Mei 2020 'n skrywe aan die Hessequa-munisipaliteit gerig om meer betrokke te raak by die mark wat deur die munisipaliteit in daardie stadium bestuur is.
Die brugmark was vir baie jare sinoniem met die vakansie-atmosfeer van Stilbaai en die geleenthede wat dit vir plaaslike entrepreneurs in en om die dorp bied.
Gedurende Augustus 2020 het die Stilbaai-sakekamer die bestuur van die brugmark by Hessequa-munisipaliteit oorgeneem deur 'n huurkontrak vir vyf jaar te onderteken. Met die bestuursoorname van die mark was daar ongeveer 40 stalletjies in Desember en 20 op 'n Saterdag, maar die mark het intussen aangegroei tot gemiddeld 42 uitstallers, wat elke Saterdag hul produkte vir die publiek uitpak om na hartelus te koop, en 56 stalletjies vir die mark in Desember.
Die brugmark se nuwe afdak.
Rachel Wall, voorsitter van die Stilbaai-sakekamer, sê die geheim van die groei van die brugmark is die feit dat daar geselekteerde produkte van kwaliteit op die mark beskikbaar is, en ook omdat die brugmark soos 'n besigheid op grond van sakebeginsels bestuur word.
Met die vinnige uitbreiding en gewildheid van die brugmark, het daar 'n behoefte ontstaan vir die fisieke uitbreiding van die perseel op 'n meer geordende manier, maar wat nog steeds die unieke karakter van die mark behou en uitbeeld.
Norval Louw van Louw Argitekte het die brugmarkkomitee bygestaan met argitektoniese voorstelle en 'n terrein ontwikkelingsplan waarna daar op een projek besluit is, naamlik die afdak wat sentraal op die terrein geplaas is ten einde toekomstige uitbreiding moontlik te maak, maar ook 'n ikoniese voorstelling te wees vir die groei van die mark en die omgewing.
Hessequa-munisipaliteit het die kontrakteur Jason Mduma van Wafumana Projekte aangestel om die afdak op te rig. Die Stilbaai-brugmarkkomitee het ook finansieel tot die oprigting van die afdak bygedra.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'