Kinders eksperimenteer
Volgens a.o. Alroy Windvogel, kommunikasie beampte, het dit aan die lig gekom dat kinders maklik by dwelms betrokke raak. "Hulle eksperimenteer met okkapype en raak gou aan die dwelms verslaaf," verduidelik hy en sê verder dat daar veral by die spazawinkels waar daar gameshops bedryf word, baie probleme ondervind word. Hy vra dié eienaars om toe te sien dat dwelms nie op hul persele gebruik of verkoop word nie. "Julle staar die sluiting van jul Spazashops in die gesig," waarsku hy.
Brandmerk diere
Alle boere, kleinboere en vee-eienaars word gevra om hul diere te brandmerk om met veediefstal-ondersoeke te help. Tatoeëring van vee, skape, bokke en varke word in die linker oor getattoeër op twee (2) maande en kalwers op ses (6) maande.
Beeste op twee (2) tand stadium moet ook gebrandmerk word en dit moet 'n geregistreerde merk wees. Aansoekvorms kan by die naaste veediefstaleenheid of plaaslike polisie se landelike sektorbestuurder verkry word. Die volgende persone kan by hul onderskeie polisiestasies geskakel word:
- Riversdal: A.o. Oosthuizen by 082 522 2589
- Albertinia: A.o. Badenhorst by 082 379 3984
- Stilbaai: A.o. Claassens by 082 820 8097
- Heidelberg: Sers. Swart by 082 411 2971.
Tref voorsorg teen inbrake
Daar word weereens 'n dringende beroep op alle huiseienaars gedoen om hul huise te sluit wanneer hul iewers heen gaan, al is dit net na die kafee of dorp. Volgens die polisie gebeur dit gereeld dat mense vinnig dorp toe gaan en net die deur toetrek sonder om te sluit en met hul terugkoms is daar verskeie items weg. "Sluit die deure en voorkom verliese van waardevolle besittings. Voorkoming van misdaad is belangrik en nie net die polisie se plig nie," maan Windvogel.
Gemeenskapsvergadering
Die polisie en GPF bied 'n gemeenskapsvergadering aan op Donderdag, 28 Februarie om 19:00 in die Duivenhoks gemeenskapsaal.