Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Corné Schabbort en sy dogter Marianne (16) het Dinsdag 12 Junie die dood vrygespring toe hul ligte Mohawk-vliegtuig in die Goukourivier beland het.
Die ongeluk het gebeur net nadat Schabbort, wat vroeër jare in die SA Lugmag was en sedert Januarie weer permanent in Stilbaai woonagtig is, van die aanloopbaan in Stilbaai-Oos opgestyg het. Volgens hom het die instrumente en voorvlugtoetse geen probleme aangedui nie.
Die enjin het egter gaan staan net nadat hulle opgestyg het en hy moes selfs onderdeur kragdrade duik. Hy het vir 'n oop gedeelte hoër op langs die oostekant van die rivier gemik, maar het net oor die R305 met die onderstel eerste in die rivier beland waarna die vliegtuig se stert oor die kajuit geslaan en dit op sy dak in die rivier gelê het.
Schabbort en sy dogter kon gelukkig daarin slaag om by die deure uit te kom, hoewel Marianne aanvanklik gesukkel het om haar sitplekgordel los te kry. Hulle is nie beseer nie.
Die NSRI Stilbaai is om 13:03 na die toneel. Die plaaslike polisie, EMS en personeel van die plaaslike munisipaliteit was ook op die toneel om hulp te verleen. In oorleg met die burgerlugvaartowerheid is begin om die vliegtuig uit die water te haal. Aanvanklik is probeer om die vliegtuig met behulp van twee bote om te dop deur toue aan die stertwiel vas te maak, maar die pogings was onsuksesvol.
'n Geskokte Marianne staan by haar pa, Corné Schabbort.
Die vliegtuig is toe met 'n tou deur 'n bakkie van die kant af tot teenaan die kant van die rivier gesleep, waarna mannekrag ook ingespan is om dit verder te sleep. 'n Vragmotor met hyskraan het die vliegtuig uiteindelik uit die water gelig en op die vragmotor gelaai.
Kyk 'n video hieronder:
Die tydsame proses begin.
Stert in die lug. Foto verskaf
Lees 'n vorige artikel: Noue ontkoming toe vliegtuig val
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'