Die opleiding oor twee dae is deur middel van teoretiese en praktiese hulpbronne en illustrasies aan sowat 60 leerders vanaf graad 8 tot 12, asook 10 werkers van verskeie besighede by die skool aangebied.
Die fasiliteerders was die plaaslike paramedikusse, Mario Kennel, Donny Newman en Christopher Cieta van die Hessequa ambulansdienste, asook Marcus Slingers, koördineerder van die Emergency First Aid Respondents (EFAR) en me. Simonay de Vos, administratiewe assistent, beide verbonde aan die Metro EMS (Kaapstad). Die projek word deur die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch, die Metro EMS asook die Emergency Medical Services of South Africa (EMSSA) saamgestel en geborg. Dit is meer spesifiek op skole gemik en was Kairos die eerste skool in die streek wat by die opleiding gebaat het.
Die deelnemers is aan alle aspekte van basiese noodhulp in krisistye blootgestel. Volgens Slingers is die toepassing van mediese hulp op kritieke oomblikke van kardinale belang om lewens te red asook onnodige komplikasies te voorkom.
Slingers en sy mede-fasiliteerders was heel tevrede met die deelnemers se ywerige deelname om dié nodige kundigheid aan te leer. Hy het wel benadruk dat hulle die kennis wat hulle opgedoen het, sal moet gebruik tot voordeel van die gemeenskap. "Dit moet deur die gemeenskap as hul eie geëien word om behoorlik 'n impak in die gemeenskap te maak." het Slingers gesê.

Die groep leerders van Kairos het deel uitgemaak van 'n groep van ongeveer 70 deelnemers wat 10 werkers ingesluit het tydens die opleidingskursus in basiese noodhulp by die skool. Saam met hulle is die verskeie fasiliteerders, Mario Kennel, Simonay de Vos, Marcus Slingers, Donny Newman en Christopher Cieta in die tweede ry.
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'