HESSEQUA NUUS - Brande het weer op Vrydag 2 en Sondag 4 Februarie in die streek uitgebreek.
Op Gouritsmond by Bitoville het 'n brand Vrydag ontstaan en was dit blykbaar baie naby aan wonings.
'n Sterk wind het boonop die brandbestryders se taak bemoeilik en het Hessequa bystand van Eden-distriksmunisipaliteit en lugondersteuning deur Working on Fire (WoF) verkry.
Die vuur is eers Sondag heeltemal onder beheer gebring en uitgesit.
"Geen strukture is verloor nie en die gemeenskap word bedank vir hul ondersteuning," het Susan Geldenhuys, mediawoordvoerder van Hessequa-munisipaliteit gesê.
'n Huis het ook Vrydagaand op Albertinia in Pat Jacobsstraat afgebrand.
Volgens kapt. Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie, is niemand beseer nie.
Die vuur op Klipfontein langs die R305, Stilbaai-pad wat Sondag ontstaan het, is vinnig met behulp van plaaslike boere, Hessequa en Eden-distriksmunisipaliteit onder beheer gebring en geblus.
"Die oorsaak van die twee brande is nie bekend nie," het Geldenhuys gesê.
Working on Fire het lugbystand verleen.
Die Van Rooyen-gesin op Albertinia het alles in die brand verloor.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'