Update
HEIDELBERG NUUS - Die tragiese dood van Nicolin Davids (26) is Dinsdag, 27 Oktober herdenk na hy presies 'n jaar gelede onder raaiselagtige omstandighede gesterf het. Dit word beweer dat 'n polisie swaarvoertuig oor hom gery het.
Nagenoeg 50 inwoners, wat onder andere sy ouers, Esmeralda en Hendrik Liebenberg, ander familielede en vriende ingesluit het, het 'n kranslegging op die veld gaan doen waar sy liggaam gevind is.
Hy het die vorige dag aan die dorp se jaarlikse Sportdag deelgeneem.
Die kranslegging verrigtinge is voorafgegaan deur verskeie onderhoude deur 'n televisiekanaal met familielede van nog drie ander slagoffers, wat na beweringe deur plaaslike polisie se betrokkenheid gesterf het. Hulle is Gerald Esau wat in 2016 in die hospitaal gesterf het na hy glo deur polisie aangerand is, Henry October wat vroeër die maand ook in die hospitaal gesterf het na hy 'n paar dae tevore vir drink in die openbaar gearresteer is en Jan Esau van Slangrivier, die nuutste slagoffer wat hom glo in die sel gehang het.
Davids se ma het gesê dat daar na 'n volle jaar nog geen aanduiding is wie vir haar seun se dood verantwoordelik is nie. Dit, nadat OPOD self die ondersoek behartig en hulle vroeër die maand tydens 'n gemeenskapsvergadering genoem het dat hulle ondersoek afgehandel en na die vervolgingsgesag verwys is.
Margereth de la Fontaine, suster van Gerald Esau, het haar misnoeë uittgespreek dat niemand nog vir haar broer se dood aangekla is nie.
James Gelderbloem, Hessequa wyksraadslid het ook tydens die kranslegging 'n beroep op die owerhede gedoen om geregtigheid te laat seëvier.
Ter afsluiting van die kranslegging het die aanwesiges ballonne vrygelaat, waarna hulle na die polisiestasie gegaan het en op kaptein Mervyn Zana se afdanking aangedring het.
Familielede en vriende van Nicolin Davids laat ballonne los na die kranslegging.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'