RIVERSDAL NUUS - Dié dorp se netballegende, Lefebre Rademan, kan skaars wag om weer saam met die res van die Protea-span te speel.
Sedert sy in 2014 aan Hoërskool Langenhoven matrikuleer het, speel sy op nasionale en meer onlangs ook op internasionale vlak netbal.
"Ek het in Oktober 2019 my debuut vir die Spar Protea-netbalspan gemaak," vertel sy. "Ek het in Januarie vanjaar die eerste keer oorsee teen Jamaika, Nieu-Seeland en Engeland gespeel."
Sy het op skool netbal gespeel en 'n netbalbeurs gekry om sedert 2015 aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer.
"Dit was nog altyd my droom om vir die Proteas te speel. Deur harde werk, baie opofferings en God se genade het die droom waar geword."
Die inperking weens Covid-19 gooi dié nuwe toevoeging tot die nasionale span se oefenprogram heeltemal omver. "Ek kan nie by ons gim en veral nie by ons sportwetenskaplike uitkom nie en ek het nie die nodige toerusting hier op die plaas buite die dorp nie. Netbal is 'n spansport en dis belangrik dat ons saam oefen, wat nie nou moontlik is nie."
Die span loop talle belangrike wedstryde mis. "Die Telkom-netballiga was veronderstel om op 8 Mei te begin, maar dis uitgestel. Varsity Sport het ook laat weet dat alle sportbedrywighede na volgende jaar uitgestel is, afhangende van wat die president en ministers sê. Ek het gedroom en gehoop vir 'n goeie netbaljaar en om weer vir die Quad-reeks, wat in September in Australië en Nieu-Seeland plaasvind, gekies te word."
Intussen hou sy by haar oefenprogram. "Ek doen wat ek kan en bly gereed vir wanneer ons dalk weer as span kan begin oefen. Ek gesels gereeld deur WhatsApp en Zoom met my spanmaats - ek mis hulle en ek weet hierdie inperking maak ons net meer dankbaar om netbal te kan speel."
Sy studeer steeds. "Ek het onderwys studeer en het al my graad ontvang. Ek het verlede jaar honneurs gedoen en doen nou 'n meestersgraad in bestuur en leierskap sodat ek nog vir die universiteit kan netbal speel."
Lefebre Rademan (regs) in aksie teen Engeland.
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'