NASIONALE NUUS - Die nuwe nasionale minimumloon-wetsontwerp (NMLW- Wet 9 van 2018) is vanaf 1 Januarie van krag.
Die bedrag soos aangedui in skedule een van die wet word jaarliks vasgestel. Die wetgewing is van toepassing op alle werkers en werkgewers, met uitsluiting van lede van die Suid-Afrikaanse weermag, nasionale intelligensie-agentskap en Suid-Afrikaanse geheime diens.
Dit is ook nie van toepassing op 'n vrywilliger wat vir 'n ander persoon werk en wat nie betaling vir sy dienste ontvang nie.
Die bedrae wat van toepassing is:
- R20 vir elke gewone uur gewerk
- Plaaswerkers is geregtig op R18 per uur
- Huishulpe is geregtig op R15 per uur
- Werkers verbonde aan die Uitgebreide Openbare Werksprogram is geregtig op R11 per uur.
Vir doeleindes van die wet is 'n plaaswerker 'n persoon wat hoofsaaklik vir plaas- of bosbou-aktiwiteite in diens geneem is. Dit sluit 'n huishulp wat in 'n plaashuis werk en 'n sekerheidswag op die plaas in, maar nie 'n sekerheidswag in die privaat sekerheidsbedryf nie.
Dit is belangrik om daarop te let dat elke werker geregtig is op betaling van 'n salaris wat nie minder as die nasionale minimum loon (NML) is nie, en die werkgewer mag dus nie minder betaal nie. Daar kan dus nie in 'n diensooreenkoms afstand gedoen word van die NML nie en enige bepaling in 'n ooreenkoms, kollektiewe ooreenkoms en sektorale vasstelling of wet is onderworpe aan hierdie bepalings.
Dit beteken dat die werkgewer nie die salaris, werksure of ander basiese diensvoorwaardes wat die toepassing van die NML betref, mag wysig nie.
"Die landbousektor is baie kompleks, inaggenome dat die groot meerderheid boerdery-eenhede as klein- tot medium ondernemings (SME's) beskou kan word, baie waarvan reeds verliese maak weens 'n kombinasie van droogtetoestande en lae internasionale kommoditeitspryse," het Neil Hamman, voorsitter van Agri SA se Arbeid en Ontwikkelingsentrum vir Uitnemendheid vroeër gesê.
"Agri SA bly waaksaam en adviseer belanghebbendes om ook waaksaam te wees wat betref die impak wat die nasionale minimumloon op finansieel kwesbare boerdery-ondernemings sal hê." – Agri SA
'Ons bring jou die nuutste Nasionale nuus'