STILBAAI NUUS - Adriaan Loots en sy medewerkers het die Waenhuis by Jagersbosch Saterdagaand 1 Oktober in 'n pragtige kunsgalery met 400 sketse van meer as 50 plaaslike kunstenaars uit die Hessequa-omgewing omskep.
Hierdie anonieme sketse is geskenk en die gaste kon elkeen een kies om saam te neem huistoe.
Die onkostes is gedek met die kaartjies wat vooraf verkoop is. In 'n tweede rondte kon die uitgelese gaste plakkertjies koop teen R100 stuk en dan weer 'n skets kies om huis toe te neem. Die uiteindelike doel was om al die kunswerke op hierdie manier nuwe eienaars te gee.
Dr. Nina du Toit het deur die aand pragtige musiek opgetower met haar klavinova en dan was daar natuurlik die heerlikste eetgoed om jou kooplus aan te wakker.
Van vroegaand af het die gaste heerlik buite gekuier rondom 'n paar vure, met 'n glasie in die hand, en toe die deure oopgaan het hulle ingestroom om die kunswerke te besigtig.
Willie Schoombee het in sy verwelkoming gesê dat die aand oor Jagersbosch, oor die kuns van Stilbaai en omgewing en oor die kunstenaars van Stilbaai en omgewing gaan.
'n Deel van die 400 sketse van meer as 50 plaaslike kunstenaars uit die Hessequa-omgewing wat by Jagersbosch se Nag van Kuns ten toon gestel is.
Een van die kunswerke deur 'n anonieme skilder.
Pieter Mostert, voorsitter van die direksie, het gesê hy glo hierdie Nag van Kuns gaan 'n instelling word. Die regering het in April Jagersbosch-dienssentrum se subsidie met R1 000 000 gesny en hierdie geld moet van iewers af gekry word. Nag van Kuns is dus 'n fondsinsameling om daarmee te help.
Tinus van der Berg, onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, sê dat hulle die inisiatiewe van Jagersbosch ten volle ondersteun.
Daar is soveel inwoners van Stilbaai wat dit moeilik vind om te oorleef. Hulle pensioene is nie meer genoeg om hulle deur die jaar te vat nie of Covid het hulle platgeslaan. Jagersbosch-dienssentrum help waar hulle kan.
Uiteindelik het Jagersbosch R23 000 ingesamel nadat alle kostes afgetrek is. Hulle het nog 'n klompie sketse en indien iemand belangstel kan hulle gerus 'n draai daar maak. Jy kan die eienaar word van 'n pragtige skets vir net R100 en terselfdertyd Jagersbosch geldelik ondersteun.
Gaste kuier gesellig buite terwyl hulle wag vir deure om oop te maak.
Gaste besigtig die kunswerke wat deur plaaslike kunstenaars uit Hessequa gemaak is. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'