JONGENSFONTEIN NUUS - Die rooi posbus langs die wandelpaadjie op die verste punt van die strand by dié dorp wag vir jou brief.
"Ons skryf te min deesdae en met die posbus wil ek mense inspireer om hul gevoelens vir mekaar weer op papier te sit en aan hul geliefdes en vriende oor te dra voor dit te laat is." Aan die woord is die oprigter van 'Vickyrix se posbus', Vicky van den Berg.
Sy vertel die plan het in 2015 by haar posgevat toe sy na traumatiese ervarings in haar persoonlike lewe in Jongensfontein kom heel word het. Sy het die hartseer emosies neergeskryf en die briefies daarna opgeskeur en die see laat inwaai as simboliese afhandeling van die gebeure wat die emosies veroorsaak het.
Dit het haar opnuut die terapeutiese waarde van skryf laat ontdek: "Elektroniese kommunikasie het nie vir my dieselfde diepte wat 'n spesiaal geskryfde brief het nie. Jy kan 'n WhatsApp-boodskap uitvee voor hy gestuur word, maar as die letters op papier staan is hulle daar om gelees te word."
Van den Berg het die daad by die woord gevoeg en iemand gevra om 'n tradisionele posbus te bou. Sy het dit rooi geverf, 'n naamplaatjie opgesit en dit by die rotse op een van die verste punte van Jongensfontein-strand geplant.
Tot dusver het net die Van den Berg-familie en hul vriende briewe vir mekaar gestuur, maar sy wil graag sien dat die wyer gemeenskap begin deelneem: "Hoe dit werk is dat jy 'n brief vir iemand skryf en hulle laat weet om dit te gaan uithaal. Hulle kan weer vir jou iets terugpos en so kan ons 'n sirkel van liefde begin, dat mense weer met mekaar praat."
Besoek gerus die Facebook-blad, Rooi posbus Jongensfontein, vir meer inligting en foto's.
The red post box among the rocks at Jongensfontein is waiting for your letter to a loved one. It is the brainchild of Vicky van den Berg, who believes that putting your feelings on paper can mean much more to someone than just an electronic message. Post your letter there and let the loved one or friend know to go and fetch it.
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'