MELKHOUTFONTEIN NUUS - Na bykans 12 jaar is die Wasteland - Graced Land-ervaring op dié dorp 'n bestemming in eie reg wat besoekers wêreldwyd lok.
Die projek word as 'n bloudruk van volhoubare ontwikkeling beskou en kan op verskillende maniere gedupliseer word om werk vir jeugdiges te skep.
Dié breinkind van die Dreamcatcher Foundation het ten doel om entrepreneurskapsvaardighede onder jong mense te ontwikkel sodat hulle vanaf 'n jong ouderdom kan leer om selfversorgend te wees.
Die projek het die oog van die Wes-Kaap onderwysdepartement (WKOD) na 'n voorlegging deur die organisasie in Kaapstad gevang. Dreamcatcher werk nou al die afgelope twee jaar saam met die WKOD aan die E-3 konsep (enterprise, employability and education) wat die basis van die kurrikulum vorm. "Ons werk met die departement saam sodat ons in die praktiese uitvoering op grondvlak suksesvol kan wees," sê Anthea Rossouw, stigter van die organisasie.
Die sukses van die Wasteland - Graced Land-projek stimuleer sowel die plaaslike as die groter Hessequa en Tuinroete-ekonomie omdat besoekers op die Go truly Local-roetes wat deur Dreamcatcher ontwikkel is, reis.
Dit lok toerisme na die platteland waar buitelanders plaaslike entrepreneurs ondersteun. Die projek is ook onlangs op Riversdal op uitnodiging van Hessequa-munisipaliteit voorgelê om afvalbeheer onder die gemeenskap se aandag te bring.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'