STILBAAI NUUS - Die besluit om tamaties heelwat later as normaalweg te plant, het vir Willem en Arah O'Connell vir 'n groot verrassing gesorg toe dié vrug begin dra het.
"Ons het baie las van die witvliegie gehad, maar ook voëltjies wat die tamaties gepik het. Ons het toe gedink dit sal dalk werk om dit later te plant, maar ook om dit nader aan die huis te doen omdat hier baie meer beweging is," vertel Willem. Dié keer het hulle die Ponderosa-tamatie gesaai.
Die plan het letterlik goeie vrugte afgewerp, want die pragtigste en grootste tamaties het te voorskyn gekom wat enigiets tussen 300 gram tot bykans 600 gram weeg. Die saad was Desember in die grond, Februarie kon dit uitgeplant word en die eerste oes was in Mei.
Buiten kunsmis en al om die tweede dag se natmaak uit hul reënwatertenk het hulle niks buitengewoon gedoen om die pragtige oes te verseker nie.
Die egpaar het ook grenadellas in die tuin, plant hul eie spinasie en knoffel, waarvan laasgenoemde deur Arah ingelê word. "En ons deel dit aan al ons kinders uit," vertel sy.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'