HESSEQUA NUUS - Verkeer was die afgelope naweek weer baie druk na die kort vakansie en in die Wes-Kaap was 25 ongelukke aangemeld, met 'n totaal van 27 persone wat noodlottig beseer is.
Ook in die Hessequa-streek was verskeie ongelukke aangemeld, maar sover bekend slegs een persoon wat noodlottig beseer is.
Volgens kapt Susan Botha, stasiebevelvoerder van Albertinia-polisie, is 'n voetganger wat Sondag, 10 Oktober om ongeveer 15:10 langs die N2 geryloop het, deur 'n silwer Honda raakgery.
"Die omstandighede wat tot die botsing met die voetganger gelei het, is nie bekend nie. Die voertuig het in Riversdal se rigting gery en haar op die skouer van die pad getref. Die bestuurder van die voertuig het ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel."
Die oorledene is 'n 34-jarige vrou van Riversdal. 'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
'n Voetganger is noodlottig beseer nadat sy deur hierdie motor op die N2 getref is.
Rukwinde
Die vorige dag, Saterdag 9 Oktober ongeveer 12:30 het 'n vrou wat vanaf Knysna op die N2, rigting Riversdal gereis het, so 5km buite die dorp beheer oor die VW Polo verloor. Die motor het die pad verlaat en aan die oorkant deur 'n draad gebars waar dit in die veld tot stilstand gekom het.
"Die sterk wind het volgens haar glo die motor van die pad geruk," het lt kol Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder van Riversdal-polisie gesê. Die vrou was slegs lig beseer en is per ambulans vir waarneming na Riversdal-hospitaal geneem. Geen ander voertuie was betrokke nie.
In 'n ander voorval Saterdag het die rukwind van 'n verbygaande vragmotor 'n voetganger wat op die N2 buite Albertinia gestap het, omgewaai. Volgens sers Ciska Badenhorst, polisiekommunikasiebeampte van Albertinia-polisie was die vrou blykbaar onder die invloed van sterk drank. Sy het geen beserings opgedoen nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'