Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Klip deur jou voertuig se voorruit is 'n baie onaangename ervaring. Só sê Philippus Scholtz van Riversdal, na sy nare ervaring op die N2.
Hy was Donderdagaand, 2 Julie na 19:00 op pad uit Riversdal in Stilbaai se rigting om iemand te gaan oplaai.
"Net toe ek verby die 80km/uur bordjie aan die onderkant van die skool ry, was daar skielik 'n harde slag en my bakkie se ruit het gesplinter," vertel hy. 'n Groot klip het binne in die kajuit te lande gekom.
Scholtz het stilgehou en die koppie uitgehardloop om te kyk of hy die kwaaddoeners kon vang, maar dit was reeds donker en hy kon niemand sien nie.
Hy wil ander motoriste waarsku om in daardie omgewing versigtig te wees: "Mens weet nou nie of dit net stout kinders is nie, maar dit kan 'n lelike ongeluk veroorsaak."
Volgens konstabel Venia Daries (kommunikasiebeampte Riversdal-polisie) moet motoriste na skemer baie versigtig op dié stuk pad wees.
Vorige artikel: Groot skok toe klip deur motorruit bars
Skade aan die bakkie se ruit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'