Update
STILBAAI NUUS - Die massastranding van kabeljou in die Preekstoel-strandomgewing van Stilbaai word deur CapeNature ondersoek.
Ongeveer 300 vis van tussen 1kg en 3kg het Maandag, 15 Februarie omstreeks 17:30 op die strand en tussen die rotse uitgespoel.
Jean du Plessis, CapeNature-bewaringsbestuurder in Stilbaai sê lede van die publiek het die kablejou op die strand opgemerk. "Sommige van die vis was dood en ander het nog in die vlakwater gelewe. Mense het die vis begin vang en ander het probeer om lewende vis weer in die water te plaas."
Du Plessis sê CapeNature is deur 'n lid van die publiek gekontak.
"Ons het dadelik reageer om ondersoek in te stel. By aankoms het ons mense gekry wat dooie visse versamel het." Hy sê die mense is gewaarsku om nie die vis te eet nie, aangesien hulle nie geweet het wat die oorsaak van die massastranding was nie.
Die departement van omgewingsvisserye en bosbou-beamptes het ook op die toneel aangekom om die publiek in te lig en die saak te ondersoek. Volgens Du Plessis het die vis geen duidelike tekens van visvang, menslike hantering of enige ander duidelike tekens van roofdier-aanvalle getoon nie.
Watermonsters is geneem en 'n paar vis is vir toetsingsdoeleindes aan die departement in Kaapstad gestuur. "Geen verdere strandings is 15km rondom die gebied waargeneem nie, wat daarop dui dat dit 'n unieke gebeurtenis was.
Du Plessis sê daar is wydverspreide teorieë oor die rede of oorsaak van die massastranding, maar hulle kan nie met sekerheid sê wat dit veroorsaak het nie. Volgens hom kon omgewingsfaktore, soos 'n tekort aan suurstof, baie warm water, patogene en rooigety wees. Selfs hengelaars wat die vis as deel van hul vangs gestort het kan vir die verskynsel verantwoordelik wees. Roofvis soos dolfyne wat agter die skool kabeljoue aangeswem het, kan ook daarvoor verantwoordelik wees.
"Nie een van hierdie teorieë is bewys nie, dus is dit tans net bespiegelings."
Du Plessis vra dat indien die publiek in die Stilbaai-omgewing nog sulke voorvalle opmerk, hulle dadelik vir CapeNature (082 496 2522) moet kontak.
"Let daarop dat enige mariene organisme wat op die strand uitgespoel het, 'n gesondheidsrisiko vir mense en troeteldiere kan inhou en nie geeët moet word nie," het hy benadruk.
Vorige artikel: Hordes kabeljou strand op Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'