STILBAAI NUUS - Hoe goed mens sielkundig voorbereid is, laat jou sink of swem wanneer jy 'n amputasie moet ondergaan.
Mike Steytler van dié kusdorp het dit ondervind toe sy linkerbeen vroeër hierdie jaar onder die knie afgesit moes word.
Steytler se vrou Louise beskryf die gevoel wanneer jy die nuus kry dat die operasie onvermydelik is: "Jy voel of jy in digte mis in ry. Jy het geen idee waarheen jy op pad is en of jy gaan cope nie."
Volgens Steytler is kommunikasie met ander wat al dié pad geloop het, een van die belangrikste maniere om mens se kop reg te kry. In Stilbaai is drie mense wat hom en sy vrou gehelp het om 'n prentjie van die toekoms bymekaar te sit: Joseph van der Linde, Etienne Steyn (onderbeen amputasies) en Toppie Gray (bobeen amputasie).
Steytler vertel die operasie self was vir hom nie te erg nie. Dis nie 'n lang prosedure nie en die pyn is iets wat mens verwag. Die aanpassings begin met die eerste probeerslag om met 'n loopraam oor die weg te kom. Die liggaam is heeltemal van balans af en skouerspiere wat dalk nie so sterk is nie, moet skielik baie harder as vantevore werk. Die risiko vir val is uiters hoog. Hy het 'n slag sy balans verloor en op die beenstompie te lande gekom, met die gevolg dat die wond weer van voor af toegewerk moes word.
Die Steytlers illustreer die veranderinge wat hul lewenswyse moes ondergaan aan die hand van klein verbouings wat in hul huis moes plaasvind. Vir 'n hele klompie maande is trappe klim buite die kwessie. Die drumpel voor 'n stort is so goed soos 'n gesluite hek - trouens, elke trappie by die huis moes in 'n oprit verander word. Glybestande materiaal moes op die stortvloer aangebring word en 'n handstort vir gebruik saam met 'n spesiale stoel wat nie maklik gly nie, moes geïnstalleer word. Handvatsels is in die stort en by die toilet aangebring en die toiletsitplek moes hoër gemaak word.
Meubels word ook met 'n ander oog bekyk. Dis nie meer net vir opstaan uit enige stoel of van enige bed af nie.
Die eerste prostese kan nie gemaak word voor die beenspiere genoeg weggekrimp het dat die stompie 'n keëlvorm aanneem nie. Die proses wat coning genoem word kan ses tot 12 weke neem. Steytler benadruk dat die hulp van 'n goeie fisioterapeut onontbeerlik is in die proses om met die prostese te leer loop en die regte spiere sterk te kry. Louise het 'n tydlyn wat by die operasie begin, met verskillende mikpunte in die herstelproses teen hul yskas opgeplak. "Elke week wat afgemerk word, maak vordering konkreet en bring iets nuuts om heen te werk," sê sy.
Op die vraag of hy minder mens gevoel het omdat hy 'n been verloor het, antwoord Steytler: "Nee, maar dit was net omdat ek reg oor die gebeure gedink het."
Uiteindelik is dit kommunikasie met ander mense wat 'n groot verskil in 'n gestremde se lewe kan maak. Daar ís lewe na amputasie, die vorm waarin die lewe uitdrukking kry verander net so bietjie.
Lees 'n verwante artikel hier: Die lewe rol maar voort
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'