RIVERSDAL NUUS - André du Toit is al byna 50 van sy 70 lewensjare aan 'n rolstoel gekluister.
Vanaf 3 November tot 3 Desember val die klem op mense wat met gestremdheid lewe. Suid-Kaap Forum het met Du Toit gesels oor die uitdagings van sy fisieke gestremdheid.
Hy het in Klawer aan die Weskus grootgeword en hom aan die Hoër Tegniese Skool Drostdy op Worcester as passer en draaier bekwaam. Hy het in 1966 by die destydse Spoorweë vir 'n pos in dié ambag aansoek gedoen, maar so 'n pos was nie beskikbaar nie en toe word hy 'n stoker op 'n stoomtrein.
Op 10 Oktober 1971, terwyl sy trein by Mount Edgecombe in die destydse Natal by 'n suikermeule gestaan het, het 'n tragedie dié jong man getref. Wat daardie dag gebeur het, weet niemand nie. Du Toit se rug was gebreek, die werwels vergruis. Hy was drie weke lank in 'n koma. "Adam Botha, die drywer, het vroeër na die naaste stasie geloop om te gaan aanmeld dat iets met die lokomotief se remme verkeerd is. Hy het my later vertel dat ek met 'n besering aan my kop en enkel voor die lokomotief gelê het toe hy terugkeer. Hy het gedink ek maak 'n grap en dat ek maak of ek slaap. Toe hy my nie kon wakker kry nie, het hy die meule se dokter gaan roep en hulle het my na die St. Augustine-hospitaal in Durban geneem." Hy het 'n jaar lank in dié hospitaal deurgebring. "Dit het stadigaan tot my deurgedring dat ek nie my bene kan gebruik nie."
In 1973 is hy na terug na sy ma op Klawer. Hy het erge bedsere ontwikkel en is in die Conradie-hospitaal op Pinelands opgeneem. Daar is een van sy bene afgesit. "Die dokter het gesê ek sal nooit weer loop nie." Vir agt jaar was hy in en uit die hospitaal en die ander been is later ook afgesit. Uiteindelik het 'n maatskaplike werker gesê die Spoorweë gaan hom afbetaal. "Ek het 'n brief vir Ben Schoeman geskryf en hy het gesorg dat ek ge-board word. Hulle het onderneem om my R150 per maand plus R30 hulptoelae te betaal."
In die Conradie-hospitaal het hy René, 'n verpleegster ontmoet en hulle is binne twee maande getroud. Hulle het in Epping in Kaapstad 'n huis gekoop. Later het hulle 'n rukkie op 'n plaas op Die Vlakte gewoon voor hulle in 2008 Riversdal toe verhuis het.
Dis waar hulle vandag nog woon. René het voorheen by 'n tandarts op die dorp gewerk. "Ek kon nooit weer werk kry nie - die werksplekke was destyds ontoeganklik vir 'n persoon in 'n rolstoel," vertel hy. Tog het hy bykans drie jaar lank as 'n sekuriteitswag by 'n groot onderneming op die dorp gewerk. Toe hy slaapapnee ontwikkel, het sy gesondheid so agteruitgegaan dat hy dit nie meer kon doen nie.
"Vandag is die meeste van die geboue op die dorp toeganklik. Dis net die oudste geboue en van die nuwe eetplekke waar ek moet wag tot iemand my teen die ramp kan ophelp."
Du Toit in sy rolstoel is 'n bekende in die dorp se strate. Hy knoop graag 'n geselsie aan wanneer hy gaan inkopies doen. Hy is lief vir tuinmaak en het 'n pragtige groente- en blomtuin.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'