Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die flink optrede van bure het Dinsdagmiddag 'n tragedie voorkom na 'n kind 'n huis in Môrestond aan die brand gesteek het.
'n Driejarige seuntjie wat met 'n aansteker gespeel het, het die matras van die bed waarop hy gesit het, aan die brand gesteek.
"Ek het die vlamme gesien en na die huis gehardloop," het André Jansen, 'n buurman gesê. "Toe ek by die kombuisdeur ingaan, het die seuntjie by die deur uitgekom en weggehardloop."
Terwyl 'n ander buurman die brandweer gebel het, het Jansen en sy vriende begin om die vlamme met 'n tuinslang dood te spuit.
Die geskokte Frieda Mpele (21), ma van die kleuter, het met haar vyf maande oue baba in haar arms arm in die straat gestaan.
"Ek was gou langsaan om visolie te leen," het sy gesê. "Hy was by my, maar hy het net weggeraak. Ek het die mense hoor skree en toe ek weer kyk, is die hele huis aan die brand."
Terwyl die brandweer wat binne minute op die toneel was die brand geblus het, het sy gou haar pa Fred, aan wie die huis behoort, by sy werk in Langstraat gaan roep.
Hoewel die struktuur behoue gebly het, is die inhoud van die huis verwoes.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Blitsige optrede verhoed tragedie
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'