STILBAAI NUUS - Om George Sabbagha in 'n neutedop vas te vang is nie so maklik nie.
Nes jy dink hy's vasgepen in die NSRI-hokkie, dan spring sy bewaringskant of die onderwyser met die groot liefde vir kinders uit.
Diens aan die gemeenskap lê hom baie na aan die hart.
Hy is nie net bevelvoerder by NSRI-stasie 31 nie, maar ook buurtwagkoördineerder in die hawegebied en ondervoorsitter van Stilbaai Bewaringstrust.
Sabbagha is in 1953 in Bloemfontein gebore. Na skool het 'n BA-graad met geografie en ekonomie as hoofvakke by die Universiteit van die Vrystaat gevolg. Sy onderwysloopbaan het in 1979 op Springbok begin. Middel 1986 het hy na Hoërskool Swartland in Malmesbury geskuif tot die gesin in 2012 permanent Stilbaai toe verhuis het. Hy en vroulief Diekie ('n nooi Nieuwoudt) het sedert hul troue in 1976 gereeld in Stilbaai gekuier want Diekie se oupa was die bekende oom Steyn van die Maansjannie-huis in Stilbaai-Wes. Hulle het vyf kinders en 12 kleinkinders van wie die oudste 13 en die jongste ongeveer agt maande oud is. "Jy moet nou nie van 'n oupa verwag om dag en datum van die geboorte te onthou nie," sê hy verleë.
Hy sê as hy sy lewe oor kon begin sou hy weer onderwys kies. Kennisoordrag is 'n passie by hom en hy het 'n baie sagte plek vir kinders: "Kinders het nie gevra om gebore te word nie. Grootmense móét vir hulle beskikbaar wees." Sy oë vonkel wanneer hy aan sy skoolhoudae terugdink. Hy was onder meer hokkieskeidsregter en vertel van 'n meisie wat half sukkel-sukkel die bal reg na hom toe aangedribbel het. Uiteindelik kon sy dit nie meer hou nie en sê vir hom: "Meneer, blaas tog net die fluitjie, my bene is nou moeg!"
Die Sabbagha-egpaar is baie bedag op die omgewing se natuurlike plantegroei en die risiko's wat ontwikkeling inhou. Hulle glo ontwikkeling kan net slaag indien dit in balans met bewaring gedoen word.
Dis 'n man met begrip en waardering vir die interaksie tussen alles op ons planeet: "Een ding wat die lewe my geleer het is dat niemand heeltemal onafhanklik van ander kan wees nie. Ons het mekaar nodig."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'