Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die jaarlikse Goliath Davids/Hessequatoneelfees wat op Heidelberg aangebied word, is weer op die planke nadat dit verlede jaar deur die Covid-19-pandemie gekortwiek was.
Die fees het in 2016 onder leiding van oom Gollie, soos hy alombekend was, se twee seuns, Lloyd en Peter-John Davids afgeskop.
Slegs 'n beperkte hoeveelheid toeskouers kon toegelaat word as gevolg van Covid-19-regulasies. PJ Davids het die ongeveer 30 feesgangers verwelkom, terwyl vader Chassley Fredericks dit met 'n gebed geseën het.
Die baie bekende akteur, regisseur en toneelskrywer, Peter Braaf en sy vrou Sandy, asook Wim Vorster het weer as beoordelaars opgetree en moes aan die einde van die week die moeilike besluite neem om die wenners in die verskeie afdelings aan te wys.
Die week se verrigtinge is op 'n hoogtepunt afgesluit met die teenwoordigheid van twee baie bekende oud-inwoners, Christo Davids, kleinseun van oom Gollie en self 'n akteur en regisseur van formaat, asook Quinton Adams, oftewel die Shackbuilder, opvoedkundige sielkundige.
FOTOGALERY: Hessequa toneelfees
Volgens Davids het 15 groepe (120 deelnemers) vanjaar deelgeneem nadat 26 groepe aanvanklik ingeskryf het. Hy is egter van mening dat, ten spyte van die daling in getalle, die aanbieding 'n reusesukses was as dit aan die hoë standaard gemeet word wat deur die week se produksies gelewer is.
Die plaaslike groep, Hessequa Abet-sentrum het die toneelfees begin met die produksie, Kiners vani Twilight, onder leiding van Marlon Davids, jongste broer van Christo. Daarna het die tweemanstuk van Swellendam Senior Sekondêre Skool, Kain en Abel, ook die toeskouers in vervoering gehad. Aiden October het die regie van laasgenoemde produksie behartig.
'n Toneel uit Kiners vani Twilight deur Hessequa Abet-sentrum se leerders.
Die beoordelaars was in die algemeen baie beïndruk met die standaard van die produksies en die akteurs.
Geen vertonings is Woensdag aangebied nie, maar wel werkswinkels vir die deelnemers.
VERWANTE ARTIKEL: Voornemende akteurs word bemagtig
Die feesverrigtinge is Saterdagaand met 'n galageleentheid afgesluit. Tydens sy toespraak het Adams beklemtoon dat drama in Heidelberg 'n baie lang en trotse geskiedenis het.
VIDEO: Toneelfees weer op die planke
"Die kulturele erfenis strek oor meer as 60 jaar in Heidelberg. Teater is 'n magtige kulturele wapen vir sosio-ekonomiese opheffing en kan 'n nuwe kulturele renaissance teweegbring," het hy gesê. "Dit was goed om dit by te woon en weer te connect met ons komvandaanstories."
Christo het die toeskouers met vele kwinkslae vermaak en die jeugdiges aangespoor om op hul doelwitte gefokus te bly.
Na afloop van die week se verrigtinge het Lloyd Davids almal bedank vir hul deelname en ondersteuning van die fees.
Peter-John Davids, seun van wyle Goliath Davids (links voor) en Christo Davids (heel regs voor) sit by ander Davids-familelede en rolspelers na die suksesvolle finale aand.
VORIGE ARTIKEL: Toneelfees weer op planke
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'