HESSEQUA NUUS - 'n Mens staan verstom wanneer jy begin lees hoe die streek se dorpe ontstaan het en hoe die drie dorpe, Heidelberg, Slangrivier en Witsand se mense se geskiedenisse inmekaar gevleg is oor die jare.
September is Erfenismaand en is dit ook gepas dat ons so vir 'n wyle stilstaan en terugkyk, miskien net om bietjie meer perspektief op die hede en op die toekoms te kry.
Groot mense, met harte vol welwillendheid en 'n liefde vir hul medemens het ons vooruitgegaan. Van hulle nasate leef nog voort in die streek en vanne soos Hopkins, Uys, Hoogbaard, Gildenhuys, Geldenhuys, Meyer(s), Kleynhans, Van Niekerk, Eksteen, Lotz, Hartnick, Rall en vele meer, is steeds baie bekend in die streek.
Die Hopkins-naam byvoorbeeld, word sterk verbind met die oprigting van die kerke wat nog in die Heidelberg-streek bestaan, van die 19de eeu tot hede. Charles
Kingsley Hopkins, stamvader van die Hopkinse van die streek, was 'n merkwaardige man. Sy bydrae tot die uitbou van die dorp en sy mense vind vandag nog weerklank.
Nie net het hy geldelik ruim bygedra tot die oprigting van die NG Kerk in 1855, wat die groei van die dorp verseker het nie; hy het hom die volgende jaar geskaar by die stigter en eerste leraar van die Independente Kerk, later die Congregational Kerk, eerw. Henry Charles Helm, en die nuwe gemeente geldelik so goed ondersteun dat die kerkbou-skuld binne vyf jaar afbetaal was.
Sy vriendskap met die leraar was so dig dat die twee om die beurt die dienste in die Independente (Congregational) Kerk waargeneem het. Sondagaande veral was die kerk volgepak met wit en swart dorpenaars wat na die dienste kom luister het. In die kerk self het gemeentelede soos die Oktobers, die Kings en die Novembers hier rondom 1890-1903 sterk leiding gegee.
Met die bou van die St. Barnabas-kerk aan die onderpunt van die hoofstraat 'n paar jaar later (1860), het dorpenaars weereens ingespring om die St. Matthews-gemeente van Riversdal by te staan met die bou van 'n kapel. Soos met die bou van die ander kerke het bouers en arbeid uit die gemeenskap, met die geldelike ondersteuning van veral John Young, skoonseun van CK Hopkins, gesorg dat die hoeksteen van die nuwe kerk in 1889 gelê kon word.
Independente (Congregational) Kerk.
Suid-Kaap Forum het met Cecile Hopkins, vrou van Charles Kingsley, derde geslag Hopkins en deesdae inwoner van Witsand, gaan gesels. Sy het bevestig dat haar seun, ook Charles Kingsley Hopkins, baie nou betrokke was by die bou van die nuwe kerk, Charis Christian Church, en lank 'n kerkvriend daar was. Dus lyk dit of die kerkbouer, mildelike skenker en filantropiese bloed, vier geslagte later steeds dik in die Hopkins-familie vloei!
Hierdie monumente, en dié in Slangrivier en Witsand, is reeds meer as 'n eeu en 'n half oud, en staan as stille getuienis van wat vermag kan word as 'n gemeenskap 'n gesamentlike doel nastreef.
Erfenis het te doen met nalatenskap - deur vorige geslagte aan die nageslag - om op trots te wees, om van te leer en om op voort te bou. Slangrivier, wat in 1838 uitgebreide landelike gebiede van die Kroonkolonie van die tyd ontvang het (ofskoon hulle reeds geslagte lank op die grond gebly het), kan met trots terugkyk hoe die dorp van toe tot nou ontwikkel het.
Port Beaufort, met die Barry- en Neefsmaatskappy (1848), het 'n totale omwenteling in die streek se handelsbedryf meegebring met hul stoombote op die rivier. Witsand, as dorpie, het later gevolg en is vandag 'n spog kusdorpie aan die Suid-Kaap kus.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'