STILBAAI NUUS - Dis nie elke dokter wat self die medisyne wat hy voorskryf, gebruik nie, maar dr. André Botha is 'n uitsondering op die reël. As hy jou aanbeveel om fisiese oefening te kry, kan jy maar glo hy ken die voordele van fiks wees eerstehands.
Botha het in Mei vanjaar aan sy eerste half-ystermankompetisie deelgeneem en kan met trots die medalje toon as bewys dat hy dit voltooi het.
Hy het die moordende driekampstryd in 7 uur en 10 minute afgehandel. Die items waarin hy moes deelneem was 1,9 km-swem, 90,1-km fietsry en 21,1 km-hardloop.
Hy vertel dat sport en fiksheid van kleins af deel van sy lewe was. Op skool het hy rugby en krieket gespeel en later aan driekampgeleenthede begin deelneem. Sy vrou, Monica, deel sy entoesiasme vir 'n fikse lewenstyl en hul kinders is ook so grootgemaak. Dit was juis hul dogter se voorstel in Desember verlede jaar dat pa en dogter die kompetisie saam moet aandurf, wat die bal aan die rol gesit het. Vroulief het saam geoefen, maar kon weens 'n onlangse heupvervanging nie deelneem nie.
Botha beskou fisieke aktiwiteit as onontbeerlik vir goeie gesondheid. Hy wys op studies wat beweer dat 150 minute se oefening per week dubbel so effektief soos medikasie is om cholesterol in toom te hou. Jy sal hom beslis volgende jaar Januarie by die wegspringplek vir die volgende half-ystermankompetisie in Oos-Londen sien.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'