Gallery Update Video
MELHOUTFONTEIN NUUS EN VIDEO - Opgradering vir dié dorp se sportterrein is verlede jaar goedgekeur en sal in die 2018/2019-boekjaar begin.
Die projek is op Vrydag 3 Mei by die sportterrein bekend gestel.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van die Hessequa-streek, is opgewonde oor die projek.
"Die sportterrein is nie net om rugby te bevorder nie, maar ook krieket, netbal en skole-atletiek, want byeenkomste kan hier gehou word. 'n Kind moet 'n gesonde liggaam hê en dit is belangrik dat hulle by sport betrokke raak. As kind het sport my van kwaaddoen weggehou."
Hy het die dorp se geestelike leiers bedank vir die geestesgesondheid wat hulle bevorder en vir alles wat die kerke vir die gemeenskap doen.
"Ons het in 2016 al belowe dat ons die sportterrein wil opgradeer en ons woord is ons eer. Uiteindelik kan ons met die projek begin."
Hy het ook gesê hy haal sy hoed af vir Shaida Kennedy, die projekbestuurder, vir wat sy bereik. Kennedy het gesê die munisipale infrastruktuurfonds (municipal infrastructure grant of MIG) mag slegs vir goedgekeurde projekte gebruik word. "Ons het reeds in Mei 2017 aansoek gedoen en die behoefte vir opgradering bepaal."
Harold Basson, direkteur: tegniese dienste, sê die projek sal nie net sport bevorder nie, maar ook werksgeleenthede vir inwoners skep. "Dié geriewe kan 'n groot rol in die bevordering van sport in die gemeenskap speel - dit is immers die doel waarvoor dit geskep word. Ons wil graag hê mense moet meer betrokke by sport raak en die burgemeester het spesifiek daarvoor baie hard baklei."
Die projek, met 'n totale begroting van R8 miljoen, sal oor 'n tydperk van drie finansiële jaar uitgerol word.
Past. Duncan Jordaan, wat die geleentheid met gebed geopen het, het gebid dat dit die gemeenskap bymekaar sal bring en hou.
Kyk 'n video hieronder:
Raadslede, inwoners en kerkleiers is opgewonde oor die projek.
Grant Riddles bedank die onderburgemeester, Johannes Hartnick, vir sy ondersteuning. Foto's: San-Marié Cronjé
'n Bord wat die beoogde opgradering aandui word deur raadslede, inwoners en die burgemeester onthul.
Lees 'n vorige artikel hier: Melkhoutfontein opgradering op dreef
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'