HESSEQUA NUUS - Die koronavirus (Covid-19) het 'n ingrypende invloed op sakeondernemings, veral in die gasvryheidsbedryf.
Suid-Afrikaners roem hulle op hul vermoë om altyd 'n plan te beraam.
Eienaars van klein besighede met wie Suid-Kaap Forum oor die uitwerking van regulasies met betrekking tot die afkondiging van 'n nasionale ramp op hul ondernemings gesels het, was dit eens dat hulle rég is om die krisis die hoof te bied.
Op Riversdal noem Moonyeen Stander van 'n restaurant dat hulle buiten die handreiniger by die toonbank, ook 'n beker met suurlemoensap, heuning en gemmer neergesit het. 'n Kennisgewing nooi klante om 'n glasie te skink en hul immuunstelsels te versterk. Sy sê hulle moedig klante aan om eerder wegneemetes te bestel.
By 'n bekende koffiewinkel sê Magda Jackson die enigste ding wat aan hul gewone daaglikse higiëne verander het, is die toevoeging van handreiniger wat by die deur gereed staan.
Gys Hough reken ook sy bistro se skoonmaakroetine het nie veel verander van die gewone nie. Hy het wel alle eetgerei van oop tafels af verwyder en verpak dit nou as stelle in sakkies wat onoopgemaak aan klante gegee word. Die kleiner tafels het slegs twee stoele en nie meer vier nie, om afstand tussen gaste te help hou.
Op Stilbaai sê Sonja Koen van 'n kuierplek (pub) hulle sal op kosverskaffing na 18:00 op weeksdae fokus en na 13:00 op Saterdae om aan die rampregulasies te voldoen.
Volgens gastehuise is verblyf gekanselleer omdat geleenthede waar meer as 100 mense bymekaar sou kom afgestel is. "Daar is nog gaste wat oornag, maar daar is nie besprekings vir langer verblyf soos oor die Paasnaweek nie," sê die bestuurder van 'n gasteplaas waar oppervlakke waaraan mense raak voortdurend ontsmet word om werkers en besoekers te beskerm.
Van die eetplekke langs die N2 tree pro-aktief op. Een van die restaurante het altesaam vyf handewasplekke, onder meer ook by elke betaalpunt. Volgens bestuurder Stoffel Giliomee word werknemers verplig om hul hande tot by die elmboog te reinig voor hulle soggens die werksplek betree. Ten einde mee te help dat hulle 'n veilige afstand tussen mekaar handhaaf, werk hulle skofte en elkeen kan meer as een soort werk verrig.
Die maatreël dat kuier- en eetplekke om 18:00 moet sluit en daarna nie meer alkohol mag verkoop nie, gaan volgens die bestuurder van 'n gewilde gesinsrestaurant die omset knou. By restaurante het die invloed van die nuwe wetgewing tot klante deurgedring toe gewilde eetplekke Saterdag om 13:00 moes sluit omdat dit 'n openbare vakansiedag was. Dieselfde reël geld op Sondae.
Drinkplekke verwag dat die beperking op die aantal mense en vroeër sluitingstye ook aan hul sak gaan raak. Van hulle ervaar reeds 'n afname in die aantal klante. "Ons verloor baie geld hierdeur," het die bestuurder van een plek gesê.
By nog 'n kuierplek het die bestuurder gesê hulle word op die oomblik nie deur die koronavirus geraak nie, want hulle ontvang nie sommer meer as 50 persone nie; 'n derde persoon het gesê: "Die besigheid verloor wins, want minder mense besoek ons."
By al drie plekke word streng higiëne toegepas. "Ek dink besighede moet die basiese voorbereidings tref om die virus te bekamp. Ons het maatreëls in plek, soos die ontsmetting van oppervlakke, asook klante se hande." Daar is oral handreiniger in die waskamers geplaas.
'n Verwelkoming wat ook goed is vir jou. Foto's: Deona Aucamp
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'