Update
RIVERSDAL NUUS - "Jy kan enige ideaal ten spyte van 'n gebrek bereik. Jy is net meer uniek as ander mense."
Anita Peens, wat op 17 Augustus 'n finalis in die Miss Teen Commonwealth SA 2019-kompetisie was, se bruin oë kyk peinsend by die venster uit terwyl sy dié wysheid kwytraak.
Haar vriendelike vasberadenheid en selfvertroue is voelbaar en strek verby ouderdom.
Haar ideaal is om 'n loopbaan as model te volg en 'n kompetisie soos hierdie was die eerste stap in haar plan om aandag by die regte mense te trek. Sy vertel dat haar ouers die idee om deel te neem by haar geplant het. Met elke stap nader aan die finale ronde het die opgewondenheid toegeneem. Hoewel sy nie die titel verower het nie, is sy met 'n toekenning vir die deelnemer wat die beste postuur, bewegings en oogkontak op die verhoog gehandhaaf het beloon.
Sy vertel laggend een van die belangrikste maatstawwe vir dié afdeling is om nie met hoë hakke neer te slaan nie.
As deel van die kompetisie moes geld vir 'n liefdadigheidsorganisasie ingesamel word. Anita het 'n sorgsentrum vir kinders met spesiale behoeftes in Riversdal gekies en 'n mooi bedrag kon aan hulle oorhandig word. Sy reken die insamelings-veldtog het haar geleer om met selfvertroue uit haar gemaksone te klim en met vreemdelinge te praat. Sy het ook geleer dat haar selfbeeld nie van mense se goedkeuring afhanklik is nie.
Sy beplan om aan soveel plaaslike skoonheidskompetisies as moontlik deel te neem om ervaring op te doen en in die modelwêreld raakgesien te word.
Dit alles sal egter met haar elegante hakskoentjies stewig op die grond gedoen word.
Lees 'n vorige artikel hier: 'n Blink toekoms wink vir tiener
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'