STILBAAI NUUS - Aan die oostekant van die dorp is 'n ongelooflike muurskildery aan't ontwikkel.
Die sykant van die gebou op die h/v Hoofweg-Oos en Dorisweg (die pad na die industriële gebied) is voltooi en nou wag die agterkant op die befaamde skilder van Friemersheim, Fourie Ackermann.
Fourie se muurskilderye pryk regoor Suid-Afrika en hy het selfs al vir president Cyril Ramaphosa 'n paar kommissies gedoen.
Die eienaar van die gebou, Hennie Vorster, het in Junie verlede jaar begin aanbou en verbou, wat in November voltooi is.
Die kaal wit mure het hom egter geweldig gepla. Van die voorstelle wat hy gekry het was palmbome voor die muur en selfs groot advertensieborde, maar dit was nie wat hy in gedagte gehad het nie.
Hy het navorsing op die internet begin doen oor muurskilderye en het werke van Fourie gesien wat hom onmiddellik aangetrek het.
Fourie se spesialiteit is eintlik wildlewe tonele, maar Hennie het net geweet dat hy die regte persoon vir die werk is. Hy het Fourie in Januarie gekontak, maar op daardie stadium was hy met 'n projek in KwaZulu-Natal besig.
In Maart het hulle weer gekommunikeer en Fourie, wat intussen ook begin navors het, het vir Hennie voorbeelde gestuur van tipiese tonele wat laasgenoemde wou hê.
Hennie se opdrag was motorhuise met al die motors wat hy van matriek af gery het, met balkontonele van 'n tipiese Havana in Kuba atmosfeer aan die bokant. Hy het selfs foto's by die George Motorskou geneem en vir Fourie gesê wat die kleur van die motors moes wees.
Op 4 April het Fourie met 'n besoek aan die gebou sketse gemaak en aan Hennie voorgelê, waarna hy op 10 April met die projek weggespring het. Inwoners het hom van vroegoggend af sien werk aan die skildery. Hy sal soms terugstaan, 'n ander idee kry en dan van die detail verander.
Nadat hy byvoorbeeld die balkontonele geskilder het, het dit vir hom baie kaal gelyk en die blombakke word toe bygesit. Dit is dus 'n baie lewendige projek en dit ontwikkel soos wat die projek vorder.
"Dit is presies wat ek in gedagte gehad het en veral die balans en diepte maak hierdie projek iets uitsonderlik," het Hennie gesê.
Daar is reeds baie belangstelling en mense stop om foto's te neem en bekyk die muurskildery van naderby.
Fourie bedank almal vir hulle ondersteuning en belangstelling. Hy sê daar wag nog 'n paar verrassings wanneer hy met die agterkant van die gebou begin, wat na beraming einde Junie klaar te wees.
Hierdie voortreflike werk gaan beslis heelwat belangstelling ontlok en dit gaan veral mooi lyk as jy van die hoofstrand by Lappiesbaai af ry.
Hennie Vorster en Fourie Ackermann staan by een van die voertuie. Die hond op hierdie skildery was Hennie se hond, Bringels.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'