GOURITSMOND NUUS - Die klein, onverwerkte balletjies plastiek, ook bekend as nurdles wat op dié strand uitgespoel het, hou 'n gevaar vir marinelewe in omdat dit as voedsel aangesien word.
Diere wat dit eet, se spysverteringstelsel kan dit nie verwerk nie, wat lei tot 'n onnatuurlike en ontydige dood.
Hessequa-munisipaliteit, Coastal Cleanup Conservation Trust, SMART (Stranded Marine Animal Rescue Team) en die plaaslike gemeenskap het kragte saamgesnoer om dié krisis te probeer verlig.
Die munisipaliteit het ongeveer 45 Community Work Program (CWP) werkers wat tans op Albertinia gestasioneer is, na Gouritsmond gestuur om die spanne in hul skoonmaakaksie te ondersteun.
"Die nurdles word gebruik om verskeie plastiekware te vervaardig.
Gedurende Oktober het 'n vragskip in Durban-hawe omgeslaan met vraghouers van die lensiegrootte balletjies wat KwaZulu-Natal se strande in 'n oogwink in ekologiese rampgebiede omskep het, maar daar is blykbaar ook ander gebeurtenisse op die oop see waar die balletjies in die see beland," verduidelik Susan Geldenhuys, mediawoordvoerder van die munisipaliteit.
Die balletjies kan met behulp van nette, siwwe, skadunet en 'n emmer opgetel word.
"Die verwydering van nurdles op strande is 'n onbegonne taak en hoop die munisipaliteit om voort te bou op die goeie samewerking tussen plaaslike owerhede, vrywilligers en die gemeenskap in skoonmaak inisiatiewe soos hierdie."
Lees 'n vorige artikel: 'Nurdles' op Gouritsmond
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'