RIVERSDAL NUUS - "Hessequa-munisipaliteit besef die waarde van kuns in ons gemeenskap en ons wêreld en dit motiveer ons om die voortbestaan en uitbreiding van die kunste vir ons nageslag te verseker."
Só het Tinus van den Berg, uitvoerende onderburgemeester van die munisipaliteit, aan 'n groep uitgelese gaste gesê by die amptelike oorhandiging van die Jan Volschenk-skildery aan die Julius Gordon Africana-sentrum/Versfeld Huis in Riversdal.
Dié skildery, wat Volschenk van die Slapende Skoonheid in 1932 geskilder het, het vir jare in die munisipale bestuurder se kantoor gehang.
Die munisipaliteit het ná deeglike oorweging besluit om dit vir veilige bewaring aan die Africana-sentrum te skenk.
Van den Berg het gesê Hessequa beywer hom om 'n balans in die streek te handhaaf wanneer dit kom by die ondersteuning van sport, kuns en kultuur.
"Die munisipaliteit het al menige kunsorganisasies ondersteun en hul lede se talent ten toon te stel in die vorm van, onder andere, die Hessequa-harmoniefees, die Melkhoutfontein-muurprojek, die Riversdal-biblioteekprojek en verskeie boekbekendstellings, wat 'n bewys is van ons liefde vir kuns.
"Kuns is 'n medium om jou gedagtes en verbeelding vrye teuels te gee. Sommige verf met woorde, terwyl ander dans gebruik om hulself uit te leef en nóg ander leef hulle so in in die uitbeelding van denkbeeldige karakters in toneelspel dat dit soms moeilik is om onderskeid te tref tussen werklikheid en toneelspel.
"Kuns is egter nie net vir kunstenaars nie, maar daar is ook bewys dat dit vir enige persoon van waarde kan wees, van ontvlugting tot terapie vir mishandelde persone en trauma en selfs mense met dementia en Alzheimer se siekte.
"Daarby loop die kunste en die menslike geskiedenis ook hand aan hand en was die kunste al van onskatbare waarde vir navorsing in die ontwikkeling en evolusie van ons spesie," het Van den Berg afgesluit.
Tinus van den Berg (links), uitvoerende onderburgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, en dr. Vickie van Wyk by die Jan Volschenk-skildery wat deur die munisipaliteit aan die Julius Gordon Africana-sentrum/Versfeld Huis in Riversdal geskenk is. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'