ALBERTINIA NUUS - Op Mandeladag, 18 Julie, het Hessequa-munisipaliteit en Aloe Ferox hande gevat met 'n groot skoonmaakprojek in Albertinia.
Amptenare van die munisipaliteit, Aloe Ferox Security Services (AFSS) en personeel van die Aloe Ferox-fabriek het saamgekom om 'n bietjie tyd terug te gee aan die gemeenskap in die vorm van 'n uiters suksesvolle skoonmaakprojek.
Die doel van dié projek was om die beboste gebied tussen Hoërskool Albertinia en die begraafplaas skoon te maak en oop te snoei.
Aloe Ferox het 'n groot bydrae gelewer deur 40 mense beskikbaar te stel om die beboste area oop te kap en skoon te maak.
Munisipale amptenare was behulpsaam met die verwydering van onwettige gestorte rommel en om die afgekapte bosse en boomtakke na die plaaslike stortingsterrein te verwyder.
Só het die gebied gelyk voor die groot skoonmaak.
Die betrokke maatskappye wil graag die projek as 'n beginpunt gebruik om verder uit te brei en meer beboste gebiede skoon te maak.
Die sekuriteit van hierdie dele en die dorp word nie net alleen verbeter nie, maar deur die plekke skoon te maak waar rommelstrooiing aan die orde van die dag is, beskerm dit ook die omgewing.
Hessequa-munisipaliteit bedank alle instansies en lede van die publiek wat 'n verskil op Mandeladag gemaak het.
Hessequa-munisipaliteit het gehelp om al die afgekapte bosse en boomtakke te verwyder.
Só het dit gelyk na al die rommel verwyder is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’