STILBAAI NUUS - Erelidmaatskap is deur Stilbaai-sakekamer se bestuur aan die munisipale bestuurder van Hessequa, Johan Jacobs toegeken vir die merkwaardige diens wat hy aan die gemeenskap lewer.
Die geleentheid met die tema, Feesviering van die sukses van Stilbaai het Donderdagaand, 25 November plaasgevind waar dr Willie Celliers die AHi se ere-toekennings aan besighede oorhandig het wat op 12 November bekendgemaak is.
Jacobs, wat in Desember aftree, staan reeds 38 jaar in diens van munisipale dienste en is sedert 2000 Hessequa se munisipale bestuurder.
"Jy sal nie net onthou word as 'n vooraanstaande man in die gemeenskap nie, maar as dienaar van die gemeenskap en daarvoor salueer ons jou," het Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai se sakekamer gesê.
Wall het hom ook bedank vir sy betrokkenheid en ondersteuning aan die sakegemeenskap.
Meer as 70 sakelui, sowel as die uitvoerende burgemeester, speaker, raadslede, senior amptenare van Hessequa-munisipaliteit en verteenwoordigers van gemeenskapsorganisasies het die geleentheid bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'