RIVERSDAL NUUS - ’n Masjien wat spesifiek gebruik word om motorfietse deur die toets te sit, is al bykans ses maande buite werking.
’n Inwoner het onlangs die Suid-Kaap Forum gekontak omdat hy al maande lank sukkel.
“Wanneer jy die verkeersdepartement skakel sê hulle dat die masjien steeds nie werk nie. Dan moet jy Swellendam skakel, wie se masjien ook nie werk nie. Dit kos jou om op die ou einde die motorfiets op ’n waentjie te laat, Mosselbaai toe te ry en dit daar te laat toets. My seun se leerlinglisensie verval amper en dan gaan dit weer ’n klomp geld kos om dit te hernu,” het die inwoner telefonies aan die koerant verduidelik.
Hessequa-munisipaliteit het ’n verslag ontvang, waaruit dit blyk dat die eletro-tegniese fout van die masjien onherstelbaar is.
Volgens Johan Jacobs, munisipale bestuurder bly die bedryf en instandhouding van munisipale dienste-infrastruktuur ? prioriteit vir hulle.
“Ons is bewus dat die nie-beskikbaarheid van die masjien wat benodig word om ’n motorfiets deur ’n toets te plaas, onnodige druk en ongerief vir lede van die gemeenskap veroorsaak. Ons is tans besig met die nodige versekeringseis en vrae die gemeenskap se geduld in hierdie saak.”
Die munisipaliteit ondersoek ’n moontlike korttermyn oplossing om langdurige ontwrigting in dienslewering te voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'